TOTSIENS… vir eers!

Dankie vir die tags, maar ek gaan nie saamspeel nie, nie hierdie keer nie.  Ek gaan vir eers die bloggery laat skuins lê, maar ek sal steeds by julle almal lees en kommentaar lewer.  Julle blogs is in elk geval baie interessanter as myne.  Wanneer ek weer sal begin blog, sal die tyd wel leer, maar nou gaan ek eers net probeer om by te bly met die veranderinge in my lewe… hopelik goeie veranderinge… en ek  belowe, wanneer iets drasties verander, sal ek laat weet.  Groetnis vir eers, Anna.

WAT? 3 JANUARIE 2011!

Ek hoop dat elkeen van julle ‘n baie geseënde Kersfees sal hê…

Ekskuus, wat sê julle?

Wat?

Kersfees is verby?

 Wanneer het dit gebeur?

Okay, okay, okay dan!

Ek hoop elkeen van julle gaan ‘n verwoede goeie Nuwejaarsfees hou en dat die goedheid julle regdeur 2011 sal vergesel!

WAT!!!  Is dit ook verby?  Nou waar is ons dan nou?

Die derde Januarie 2011!  Oh my soul!  Dan trek ons nou al by my huweliksherdenking.  Vyf en dertig jaar vandag! 

Dit is regtig hoe ek tans my lewe ervaar.  Ons het so ‘n heerlike rustige Kersfees en Nuwe Jaar beplan, maar soos die ou spreekwoord sê:  “Die mens wik, maak God beskik”.

Vrydagoggend, ou Kersdag, met karavaantjie klaar gepak en reg om te ry vir ‘n lang kamp op die plaas, spring ons ses-uur uit die vere en dit is toe net daar waar dinge begin skeef loop.  Die Matroos kom spierwit-bleek en uitasem uit die stort en “collapse” terug op die bed.  Hy voel absoluut uitgeput en lam en ons besluit ‘n vinnige nood-besoek aan die dokter is die aangewese ding om te doen.  Daar gekom vind ons uit sy hartklop is ‘n baie oneweredige 138 hartkloppe per minuut en daar is geen indikasie waarom nie.  Nuwe medikasie en baie rus word voorgeskryf en ons besef, kamp vir Kersfees is uit.

Teen Saterdagmiddag is sy hartklop weer normaal, maar o wee, die enkels begin swel en rooi word.  Teen Sondagoggend is die regteronderbeen so geswel dat krakies in die vel verskyn wat vog dreineer en ons is terug dokter toe.  (Onthou, ons is nie mense wat juis die dokter se drumpel deurtrap nie, so twee besoeke in een week is klaar half traumaties).  ‘n Erge infeksie word gediagnoseer en hy word op ‘n hoë dosis antibiotika geplaas.  Na 48 uur moet ons terug dokter toe. 

Dinsdagoggend kyk die dokter net een keer na die been en besluit dat hy baie gou opgeneem moet word in die hospitaal sodat hy antibiotika binne-aars toegedien kan word.  Gelukkig is Ousus hier en ons neem hom deur Pretoria toe vir opname.  (Die ondervindinge met die kwaliteit van diens sal ons eerder nie hier bespreek nie, maar laat ek maar net noem dat teen die tyd dat hy in ‘n saal in ‘n bed was, my bloeddruk soortgelyk was aan die banddruk van ‘n “18-wheeler”.)

Reeds teen Woensdag was daar merkbare verbetering en teen Vrydag het dit so goed gegaan dat die dokter hom huistoe laat kom het vir die naweek (op parool uitgelaat volgens die kinders).  Ons was baie bly dat hy die naweek saam met ons kon kuier, maar glo my, daar was nie veel tyd vir kuier vir my met ‘n Matroos wat amper soos ‘n baba versorg moes word, plus ‘n kleindogter wat ons net twee of drie keer ‘n jaar sien en baie aandag soek, plus al die kinders (lees hordes) en goeie vriende vir die naweek nie.

Nou is dit gelukkig Maandagoggend en almal is huistoe en terug hospitaal toe en uiteindelik kan ek vir almal in Blogland groet en ‘n baie goeie 2011 toewens.  My wens vir julle is dat al jul drome sal waar word en al jul gebede beantwoord sal word. 

(PS:  Ek sal anderdag vertel van die “geyser” wat gegroet het en die by wat my in my keel gesteek het.  Dit was sommer net kleinighede wat bygekom het, soos dat Johanna moes trek oor dieselfde tyd.  Wonderlik waartoe die menslike vlees en gees in staat is wanneer jy dit in ‘n blik druk.)

Sterf aan Depressie

Vandag word ‘n baie goeie vriend se broer begrawe.  Die skok en hartseer vir daardie familie vandag, is iets wat geen mens toekom nie.  Behalwe vir die verlies van ‘n man, seun en broer, moet hulle ook die skok verwerk van ‘n persoon wat aan depressie gesterf het, of soos ons dit noem, selfmoord.  Die “waaroms” en “het ek maars” is eindeloos.  Maak nie saak hoeveel keer daar vir hulle gesê word dat daar nie blaam by hulle lê nie, sal hulle vir nog ‘n lang tyd hulself verwyt vir iets wat hulle nie kon keer nie.

Ons word grootgemaak met die idee dat selfmoord die een sonde is wat nie vergewe kan of sal word nie.  Altans, dit is hoe ek grootgeword het.  Eers baie jare later, toe ‘n goeie vriendin se jong seun himself in hul motorhuis vergas het, het ‘n Anglikaanse priester by sy begrafnis gepreek oor “die dood van ‘n depressielyer”.  Hierdie preek het my wyer laat dink en uiteindelik het ek besef dat ons selfmoord uit die verkeerde oogpunt benader.

Depressie is gewoonlik die aanloop tot selfmoord.  Ek kan regtig nie aan enige ander oorsaak dink nie.  Ja, daar is seker vele ander simtome, maar ek glo dat elk van hierdie simtome spruit uit depressie.  Depressie op sigself is iets wat nie baie mense werklik verstaan nie.  Die algemene prentjie van ‘n depressielyer is van ‘n persoon wat heeldag met ‘n lang gesig rondloop en sug of treur, of watookal.  Dit is nie waar nie.  Daar is ernstige depressie-gevalle waar self hul eie huismense nie agterkom dat daar fout is nie.

Depressie kan so geleidelik homself in iemand se lewe kom inwurm en vestig dat niemand sal agterkom wat aangaan nie.  Na ‘n klompie maande, of selfs jare sal iemand dalk opmerk dat Piet of Anna baie stil geword het, maar dit maar net aanvaar as ‘n teken van groei of grootword, of ouderdom.  Tog is daardie persoon stilletjies aan die sterf, sonder dat hy of sy self verstaan wat aangaan.  Teen die tyd dat daar opgemerk word dat daar ernstige fout is, is dit gewoonlik te laat.

Sou iemand vir ure in die son lê en “tan”, velkanker kry en uiteindelik daardeur omkom, sou niemand dink dat sy dood ‘n sonde is nie.

Sou iemand HIV besmet word en later aan VIGS sterf, sou niemand dink dat sy dood sonde is nie.

Sou iemand homself oor jare vergryp aan sulke lekker vet steaks en biltonge en skieling aan ‘n hartaanval sterf, sou niemand dink sy dood is ‘n sonde nie.

Sou iemand 30 sigarette ‘n dag vir 30 jaar lank rook en aan longkanker sterf, sou niemand dink sy dood is ‘n sonde nie.

Sou iemand ‘n gewoonte daarvan maak om te jaag en sy band op 160 km per uur bars en hy kom om in die daaropvolgende ongeluk, sou niemand dink sy dood is sonde nie.

Sou iemand lekker partytjie hou en slinger, slinger op pad huis toe, homself te pletter ry teen ‘n boom, sou niemand dink sy dood is sonde nie… en so kan ek aangaan en aangaan.

Waarom dan, wanneer iemand as gevolg van ernstige siekte (depressie), net nie meer  kans sien om met die lewe aan te gaan, en selfmoord pleeg, sien ons sy dood as sonde?

In elke geval, wie van ons weet regtig hoe hoog, wyd, diep en breed die Genade van God is.  Na alles, is Hy tog die Een wat alles sien, ook die hart en oortuigings van daardie mens wat sy eie lewe neem, en wie weet wat daardie persoon se laaste hulproep dalk was.  Kan ons dan nie ook maar ‘n bietjie meer genadig optree teenoor die nagedagtenis van die persoon wat aan depressie sterf nie?

Ek vra maar net.

Tandarts? Help!!!

Die baie senuweeagtige dame sê, terwyl sy haarself probeer  gemaklik maak in die tandardts se stoel:  “Oh Doctor, I am so scared.  Sometimes I think I’d rather have a baby than a filling”.  Die tandarts kyk haar fronsend aan en antwoord baie ernstig:  “Please make up your mind Madam, I have to adjust the chair”.

‘n Vriendin moes gistermiddag die tandarts besoek en ek kon nie glo hoe senuweeagtig sy die hele oggend was nie en dit het my aan die dink gesit.  Ek verstaan heeltemal die gevoel van benoudheid voor so ‘n besoek, maar ek weet darem nie of ek eerder die kraamkamer as die tandarts wil besoek nie.  Tog is daar vele mense wat werklik ‘n besoek aan die tandarts vrees.  (Nou wonder ek mos of daar ‘n –fobie naam vir dit is en wat dit sou wees).

Goed onthou ek hoe die reuk van die tandarts se spreekkamer altyd dadelik my tandpyn genees het.  Ek onthou hoe die klank van sy boor soos growwe skuurpapier oor my senuweepunte geskuur het.  Die vasgryp aan die stoel se armleuning wanneer die naald per ongeluk raakgesien word en dan daardie trane wat sommer vanself uit die oog loop wanneer die punt van die naald die teiken tref.  Dit was my ondervinding van die tandarts toe ek ‘n kind was.  Nou is ek mooi groot en het heelwat meer moed.  (Ek vind dit net nog steeds onmoontlik om hom in verstaanbare taal te antwoord  terwyl hy in my kiestande rondgrawe.)

Tog weet ek dat daar duisende mense is wat selfs wanneer hulle volwasse is, steeds ‘n besoek aan die tandarts soos die dood self vermy.  Nou kan ons vra, waar kom die vrees vandaan.  Ek weet dat my eie vrees as kind begin het met my twee dierbare (meer dier as baar) broers wat vir my vertel het dat die tandarts warm lood in my tand gaan gooi, maar ek glo nie almal het sulke wrede gebroertes nie.

Ek glo nogal die vrees vir die tandarts ontstaan in die kinderjare en groei dan met die tyd.  Jong kinders hoor hoe ouer mense grustories oor hul ondervinding by die tandarts (en let’s face it, daar word gewoonlik stertjies bygelas om dit meer skrikwekkend te maak) vertel en glo sommer dat sulke goed ook met hulle gaan gebeur.  Dit gebeur ook dat ouers hul kinders eers vir die eerste keer tandarts toe neem wanneer daar gespuit, geboor of getrek moet word.  Natuurlik vereenselwig die kind dan die tandarts vir ewig met daardie ongerief of pyn.

Ai ouers, spandeer tog maar daardie paar rande en neem jou kind tandarts toe voordat daar so drasties opgetree moet word.  Maak hulle gewoond aan daardie stoel sodat hulle ontspanne sal wees wanneer hulle vir die eerste keer moet kennis maak met die meer wrede ernstige sy van die tandarts.  Dis natuurlik ook ‘n feit dat sulke drastiese optrede heel moontlik heeltemal vermy kan word indien hulle gereeld die tandarts besoek.

My kinders was gelukkig om Oom Kritz vir ‘n tandarts te hê.  Wonderlike man!  Hy was tandarts, maar het ook ‘n saagmeule hier op Naboomspruit bestuur.  So tussen pasiënte deur het hy sommer gou-gou by die meule gaan inloer en dan het hy met kortbtoek en houtsaagsels in sy hare opgedaag vir die afspraak.  Hy het die grootste hande gehad wat ek ooit aan ‘n man gesien het, maar daardie hande het presies geweet hoe om die fynste werkies in die kleinste monde te doen.  Nuwelinge was altyd geskok oor sy voorkoms, maar net totdat hulle vir die eerste keer deur hom behandel is.  Hy het sy spuitstof verwarm en dan die teenoorgestelde wang geknyp wanneer hy spuit.  Gewoonlik het die kind nie eens besef daar word ‘n naald in sy tandvleis ingedruk nie.  Ek wens elke kind met ‘n tand in sy mond, ‘n tandarts soos Oom Kritz toe.

Tyd om af te klim van die seepkis af.  Nou is dit julle beurt om te vertel hoe julle oor Oom Tandarts voel… of as julle wil, een of ander van die gru- of lag-stories wat julle al oorgekom het in die tandarts se stoel.

Siekverlof

Ek skrik wakker van ‘n pyn iewers in my maag wat my onmiddellik reguit na die kleinste vertrekkie in my huis toe dryf.  Terwyl ek op die troon sit wonder ek wat nou aan die gang is.  Dis mos nou nie die maag wat ek elke dag mee saamlewe nie.  Op pad terug bed toe sien ek op die horlosie van die mikrogolfoond dat die kwart oor drie is.  “Goed so”  dink ek, “nog genoeg tyd om uit te slaap voor opstaantyd”.  Famous last words thoughts.  ‘n Paar minute later bevind ek myself weereens op die troon in die kleinste troonkamertjie!

Teen opstaantyd (vyfuur) het ek nog nie weer ‘n oog toegemaak nie en ek dink dat ek ten minste 5 kilogram in die tussentyd verloor het… moeg ook, want as ek nie ten minste 6 ure slaap ‘n nag kry nie dan voel ek soos ‘n zombie die hele dag.  Wat nou gedoen?  Ek moet gaan werk.  Ek voel op die oomblik nie so siek dat ek nie kan gaan werk nie, maar om by die werk te kom beteken ‘n halfuur op ‘n bus deur die bos waar net ‘n bos my enigste toevlug sal wees… en dit met ‘n 60-sitplek bus vol mense wat gaan wonder waarom Anna so vroeg die natuur wil bewonder van agter ‘n bos uit.  Uiteinde van die storie is dat Anna besluit dit is veiliger om by die huis te bly. 

Nou is my eerste vraag:  “Mors Anna haar siekverlof en haar baas se tyd? ” Ek weet nie.  Ek weet net dat ek nie kans sien om dalk die res van die dag tussen my kantoor en die werk se troonkamer te sprint nie.

Soos julle teen die tyd weet, werk ek vir ‘n staatsdepartement.  So ek mag ‘n dag of twee siekverlof neem sonder ‘n doktersbrief.  Langer as dit moet ek deur ‘n dokter afgeboek word.  Jy mag ook nie meer as 10 dae per jaar so siekverlof neem nie en dit mag nie binne ‘n sekere tydsbestek van mekaar wees nie.  (Ek ken nie al die details so goed nie, want dit is nie iets wat ek juis gereeld doen nie.)

My tweede vraag is:  “Wanneer is jy te siek om te gaan werk?”  Ek weet daar is mense wat vir die geringste rede by die huis bly.  Ek ken selfs ‘n vrou wat sommer reguit vertel dat sy by die huis gebly het want haar huis het ‘n goeie skoonmaak nodig gehad.  Dan is daar weer diegene wat ek weet ernstige, kroniese siektetoestande het wat hulle sommige dae so siek soos ‘n hond laat voel, maar jy sal hulle elke dag by die werk kry. 

Wat dink julle?  Wanneer is jy te siek om te gaan werk?

Die Orde van Mapungwhat?

Op ‘n dag hoor ek iemand praat van die nuwe medaljes en dekorasies wat ingestel is en hulle noem die Orde van Mapungubwe.  Mapungubwe!  Wat op dees aarde is dit?  Anna begin oplees en kom agter dat ons die Koninkryk van Zimbabwe ver vooruit was.  

Mapungubwe is so ‘n integrale deel van die geskiedenis van hierdie land dat ek steeds nie kan glo dat soveel mense niks van Mapungubwe weet nie.  Praat jy van die reünes van Zimbabwe, of die Koninkryk van Zimbabwe en almal het al daarvan gehoor, maar noem Mapungubwe en hulle kyk jou aan asof jy in vreemde tale praat.

In 1932 het ‘n sekere mnr Van Graan (boer, jagter en prospekteerder) en sy seun die unieke koppie op sy plaas uitgeklim (okay, okay, dit was nie regtig so eenvoudig nie, maar daardie storie los ons vir ‘n volgende keer) en op eienaardige potskerwe en ander tekens van menslike bewoning, soos klipmure, afgekom.  Gelukkig was die seun verbonde aan die Universiteit van Pretoria en het besef dat hier ‘n belangrike kultuur-historiese fonds gemaak is.

Dit is aan UP gerapporteer en opgrawings is begin.  Die opgrawings en navorsing is reeds sedert 1932 aan die gang, maar die bestaan van Mapungubwe is blykbaar eers in die laat negentigs aan die publiek bekend gemaak.  Mens kan maar net wonder waarom.

Mapungubwe was ‘n florerende en gevorderde Koninkryk wat reeds 600 jaar voor Zimbabwe bestaan het.  Daar word selfs beweer dat die Groot Zimbabwe se onstaan ‘n voortvloeisel van Mapungubwe was.   Daar is handel gedryf met Indië, Sjina en die Arabiere.  Die koning het nie tussen sy onderdane gebly nie, maar wel bo-op die Mapungubwe koppie.  Dit word vertel dat niemand hom ooit  gesien het nie.

In die opgrawings is ‘n baie besonderse hout renoster gevind wat met goudblad oorgetrek is.  Daar is ook ‘n houtskottel wat met goudblad oorgetrek is gevind, sowel as ongeveer 18 000 kraletjies van suiwer goud.  Dit is bewys dat hulle reeds in daardie tye geweet het hoe om goud te bewerk.

Daar is eintlik soveel om te skryf oor Mapungubwe dat hierdie sommer net ‘n vinnige opsomming is om julle lus te maak vir meer feite oor hierdie land se hele geskiedenis, want eintlik moet hierdie storie reeds in die negende eeu begin met die ZhiZo mense.

HOOP

Die lug ‘n skilderdoek

en God se hand hou die kwas.

(Tussen Roedtan en Naboomspruit)