Van Griekwaland tot in Limpopo

Anna se lewe het in die middel van Suid Afrika begin, in die dorre Griekwaland. Net buite Kimberley. Daar is sy gebore en getooi. Vry en vredig sonder aansit of fieterjasies. Grootwordjare van onskuld en koestering. Aan die einde van standerd vier, in 1967 is sy en haar ouers Kaap toe vir die Desembervakansie en dit was liefde met die eerste oogopslag.

Die berge, riviere en die see het hierdie kind uit die dorre Griekwaland totaal oorrompel en sy het begin droom om eendag, as sy groot is, daar te woon. In 1975 het sy dan ook haar rooi Colt skedonk gepak en afgesit Suide toe. Kaap toe! Die see, die berg en die avontuur… lekker dae gewees, sorglose, opwindende dae wat haar klaar gevorm het en wysheid begin leer het. Daar het sy die Anna voltooi wat sy bestem was om te wees. Daar ook, het sy die groot, bebaarde, aantreklike matroos ontmoet wat haar later jare, sou wegsleep, met vele ompaaie, Noorde toe. Naboomspruit toe. (Hy het darem eers met haar getrou ook).

Die eerste jaar in die Bosveld het sy omgehuil. Dit was ver van die Kaap en die see af. Dit was warm. Dit was droog. Dit was vlieë en muskiete en spinnekoppe en sommer ‘n klomp ander vreemde goggas. Dit was vreemde, verkrampte, eng mense. Khaki klere en ver-regse politiek vir die mans en saamkloek en skinder vir die vroue. Sy het nie gepas nie, was nie tuis nie… en die ergste van alles, almal het vir Noord-Transvaal geskree.

Op die punt om haar goed te vat en sommer in die nag weg te raak terug beskawing toe, kom Rina by die werk, Denise by die kerk, en Magdaleen sommer oral, in haar lewe in en mentor haar tot sy leer om die twee-, vier-, ses- en agtbenige gediertes van die Bosveld te verwerk.  Haar redders en die rede waarom sy uiteindelike begin wortel skiet het in die vrugbare grond van die Bosveld.

Vandag, twintig jaar later, staan Anna, soos ‘n ou Maroelaboom, gewortel in die geil grond  aan die voet van die Waterberge in Limpopo. Steeds nie deel van die Khaki Kommando of die skinderk(l)oek nie, maar met die Bosveld en Naboomspruit deel van haar wese. Nog net een ding… haar bloed is steeds nie blou nie!

3 responses to “Van Griekwaland tot in Limpopo

  1. Hallo Anna,
    Ek kuier vanmiddag so van blog na blog en het hier op strand uitgespoel.
    Ek is weer gevang in die Drakensberge, bo-op die grens waar Natal, Transvaal en die Vrystaat bymekaar gekom het.
    En my wildeboer het my na die vlakte duskant Naboom gebring, van ‘n kransbobbejaan ‘n vlaktehaas probeer maak – na 17 jaar dit byna reggekry!!

    Het jou inskrywing oor onse bibliotekaresse so geniet – sy is dierbaar né?

    Bosveldgroete van die Vlakte na die Dorp

  2. Haai Marelize, Oeps! Iemand in my eie agterplaas lees my blog, mmmm, sal moet mooi dink wat ek in die toekoms skryf! Toemaar ek terg net. Dit is so lekker om nog ‘n blogger in ons omgewing raak te loop. Lyk vir my of julle plaas so half-en-half in die Nyl sit met al daardie water.

    Jy is reg oor ons biblioteek tannie, ek is mal oor haar.

    Kom besoek asseblief weer.

  3. Hi Anna, dis weer ek; was nuuskierig oor hoe oud jy is en toe gee jy die antwoord. Ons is kallers van selfde tyd, so 2 jaar se meer wysheid wat tussen ons lê.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s