HELP! “MY MAN SÊ…..”

Gaan ek kerk toe, loop ek my in hulle vas.

Gaan ek winkels toe, loop ek my in hulle vas.

Gaan ek na ‘n partytjie, vertoning of vergadering toe, loop ek my in hulle vas.

Dit is die mevroue wat net een deuntjie ken: “My man sê….”!

En ek wil gil,

en gil,

en gil,

totdat ek die mevrou wakker gil.

Mevrou, jy het jou eie brein gekry, gebruik hom! As ek wou weet wat jou man dink of sê, sou ek hom gevra het. Nou gesels ek met jou.

En moet asseblief tog net nie kom met daardie holrug geryde storie van “my man is die hoof van die huis nie”, dis nie ‘n verskoning nie. My man is ook die hoof van ons huis en ek respekteer hom as sulks juis omdat hy my in my eie reg ook respekteer. Gaan lees eers weer jou Bybel en kyk ‘n slag na die Esters, en die Deboras, en lees sommer weer van die deugsame vrou aan die einde van Spreuke. Vra jouself dan af: “Het die Vader vir my verstand en vermoëns gegee sodat ek dit onder die melk maatemmer moet wegsteek?”

-o0o-

Ek praat nou spesifiek van die vrouens in my eie ouderdomsgroep en in my eie omgewing, hoewel ek sterk vermoed dat die spesifieke spesie die hele land oor versprei is. Ons is so 50 jaar en ‘n paar maande oud (hoeveel maande is nie ter sprake nie) en ons manne is afgetree (meestal op vervroegde pensioen gegaan voordat hierdie nuwe regering hulle pensioenfondse nasionaliseer of weg korrupteer).

Die manne dien op die kerkraad sodat ons die kerk se blomme kan rangskik of koekies bak vir die môremark, is Gideons sodat ons vir hulle kan bid en is betrokke by die Belastingbetalersvereniging sodat ons kan aanhou glo hulle het nog mag in hul oudag.

Tegnologie vir ons bestaan uit selfone (sommer my man se oue, want ek bel tog net en stuur sms’e) en die televisiestel (maar my man stel die DSTV in). Ek lees die Huisgenoot en Daleen Matthee en o ja, natuurlik lees ek Engels ook. My dogter het net verlede Kersfees vir my die nuutste Danielle Steel present gegee en ek het hom laas week klaar gelees.

En so meer, en so meer.

-o0o-

Agge nee Susters. Ons is dogters van die Sestigs en die Sewentigs. Die dae van Elvis en die Beatles en die Blomkinders. Wat het geword van ons voornemens om die wêreld te verander en die geskiedenis te herskryf. Ons is die generasie wat die bra verbrand het en langbroeke kerk to begin dra het. Het ons daardie stryde gestry net om nou in ons goudste jare (en het julle gesien wat is die prys van goud deesdae?… seker nie, want met al die reën was die DSTV af en My Man was by die kerkraadvergadering) aan ons mans se lippe te hang vir elke gedagte wat ons dink. Komaan, gebruik daardie grys selle voordat hulle almal opdroog. Begin wyd lees. Kry ‘n rekenaar. Begin ‘n Blog. Asseblief tog, ek soek maters van my eie ouderdom met wie ek in Afrikaans in Blogland mee kan gesels.

Groetnis,

Ek is Anna

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s