Die Kamp!

My lekkerste vakansieplek is my eie huis!  Dit is waar ek altyd welkom voel, tuis is en op my gemak is.  My eie bed slaap die lekkerste en my eie bad pas my die beste. 

Nou verstaan ek ook dat almal in my gesin nie dieselfde voel nie en siende dat dit Kersfees is, en ons almal vreeslik vir mekaar omgee en ons almal mekaar wil gelukkig maak, het ek stilgebly en gaan kamp… 

Die doel van die kampery was eintlik om manlief se camping trailer (wat hyself met baie moeite en verdriet gebou het) te gaan uittoets.  Hy is al dertien jaar lank afgetree, maar is een van daardie mense wat net nie kan stilsit nie.  Hy het net na die Mighty Men Konferensie aan hierdie sleepwa begin werk sodat hy in 2010 ‘n mobiele kombuis, stort en toilet sou hê om mee MM toe te gaan.

Nou moet julle verstaan… ek is baie lief vir die natuur en vir stilte, maar ek hoef nie te gaan kamp om dit te kry nie… ek kan net die TV afsit en ek het stilte en ek kan 500 meter stap en ek is in die natuur, maar nou ja, as manlief wil gaan kamp, gaan vroulief en dogters met ‘n geskreeu en geskop maar gedwee saam!

Die kampplek?  Op vriende se plaas, so 15 kilometer weg van die huis af en reg langs ‘n ou plaashuis (dankie tog vir die elektrisiteit en bad), met geen selfoon of internet ontvangs nie – dus geen kommunikasie met die buitewêreld nie – eina!

Donderdagoggend is ons toe weg plaas kamp toe.  Daar gekom moes die tent opgeslaan word en toe ons eers uitvind dat die twee groen stutpaaltjies inderdaar langer is as die geles, het die tent sommer binne ‘n oogwink gestaan.

 Die veelbesproke sleepwa is ook staangemaak en ek moet sê, dit is toe ‘n heel praktiese ding met plek vir alles wat nodig is en alles wat nodig is op sy plek.

Ons het rustig saamgekuier die res van die dag en in die koeligheid van die aand geskenke opgemaak en vroegerig gaan slaap.  Ook maar goed, want douvoordag, nog voordat die plaashaan ons kon wakker kraai, het die Hadidas en mak Tarentale ons uit die vere gehad.

Toe ons koppe by die tent uitsteek, het hierdie gesig ons begroet.

Twee van my gunsteling Bosveld simbole!… en albei is mak!  Die Vlakkie is die pa van ‘n huidige gebroedsel van ses, maar hulle ma het nie baie van ons gehou nie en wou ons nie naby hulle toelaat nie.

Hier is nog ‘n paar foto’s sommer net om te wys hoe mooi en rustig die Bosveld oor Kersfees kan wees. 

Die Bosveld is tans op sy mooiste en hierdie Naboom is een van die grootstes wat ek nog gesien het.

Van groot gepraat, kyk bietjie na hierdie waterlelies.

Dis bietjie ver, maar believe me, hulle is groot!

Kersaand het almal baie vroeg gaan slaap en ek het vir ‘n rukkie alleen buite in die donker gesit en my verkyk aan die glans van die maan deur die bome en oor die veld en verluister aan die geluide van die natuur… en weereens besef hoe ‘n klein stippeltjie ek is in die omvang van die skepping en tog, die Kerskind is juis gebore omdat ek vir Hom belangrik is…

8 responses to “Die Kamp!

  1. Die natuur se stilte bring genesing. Ek is self nie sterk op kamp nie, maar ek is mal oor die natuur. Die Karoo waarvan ek gepraat het, is 12 km anderkant Abderdeen, op ‘n plaas. Waar mens nog die sterre met jou hand kan pluk. Wens ek kon vir altyd daar bly!

    • Die wereld van Marietjie-wag-‘n-bietjie… oop en uitgestrek as ek reg onthou. Die sterre is nerens so naby soos in die Karoo nie. Het jy net daar gekuier?

  2. Waar wat jy daar sê, as mens so alleen in die natuur is, besef mens weereens hoe klein jy in die groter prentjie is.

  3. Lyk pragtig groen en rustig.
    Is self nie `n kamper nie, en Ma is meer van `n Hoofkamp meisie: Stort, bad, toilet, bed en yskas binne 4 mure is al wat sy vra, en geen goggas nie dankie!
    Voorspoed vir die nuwe jaar.

  4. Ek doen nie sommer die “kamp”-ding nie, maar geniet die bosveld terdeë. Dis net ‘n stilte wat mens nêrens anders kry nie . . .

  5. Ja, daardie deel van “en weereens besef hoe ‘n klein stippeltjie ek is in die omvang van die skepping en tog, die Kerskind is juis gebore omdat ek vir Hom belangrik is…”, is genoeg om my skaam te maak omdat ek my toys uit die kot gooi, asof ek IETS is. Maar dankie tog, ek is wel, ‘n Koningskind!
    Voorspoedige nuwejaar vir jou.

  6. Voorspoedige Nuwe Jaar!

  7. O ek is mal oor kamp en die natuur! In die dou van klein dingetjies vind die hart sy morestond en word verfris. Voorspoedige 2010.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s