Gepomp op Oujaar!

“Pomp, pomp, hou!”

“Pomp, pomp, hou!”

“Pomp, pomp, hou!”

“Kan en  nou maar laat los?”

“Nee pomp nog… en hou!”

“Nee man, maak nou klaar.  Ek is nou natgesweet en moeg gepomp.  Jy moet maar iemand anders kry om te pomp.”

Toemaar, toemaar, ek weet dit klink nie te goed nie, maar dis maar net die Safari se remme wat gebloei moes word.  Dêm Ding!

Die Matroos het hom so twee jaar terug in ‘n impulsiewe oomblik gekoop en R5,000 afslag gekry omdat hy nog nie geregistreer was nie.  ‘n Helse bargain!  Nou ek het deur die jare geleer om enige bargain dadelik te bevraagteken en ek wens hy wil dit ook leer.

‘n Vriend Gewese vriend het twee bakkies een gemaak en dit is regtig ‘n baie oulike en lekker ryding vir die Bosveld.  Sy verskoning vir die nie-registrasie was dat hy nie tyd het om al die “papiere” bymekaar te kry nie en dit is seker waar, want dit het my Matroos omtrent ‘n jaar geneem om alles bymekaar te kry en hy het baie tyd want hy is afgetree.  Nou het hy alles behalwe ‘n klaringsertifikaat van die SAPD en as julle gedink het dis ‘n eenvoudige takie, dink weer.  In onse dorpie kan hulle dit nie doen nie en die polisieman wat dit op die naburige dorp doen is of met verlof, of met siekverlof, of uit (help nie eers om te vra waarheen of tot wanneer nie – “He is out!”).

Nou wil iemand anders die bakkie hê om op sy plaas mee te ry en sal hom ruil vir ‘n Vollatjie wat ons in die dorp kan gebruik.  (Verskoon my, maar iets sê vir my dis weer ‘n impulsiewe oomblik want hy is ook nie geregistreer nie, maar as dit by manne en rygoed kom, ken hierdie vrou haar plek en bly maar liewer stil… tot sy kan sê “told you so” – lol).  Dis die rede hoekom ek die Oujaar so pomp-pomp uit is. 

Eindelik is die gepompery toe darem verby en die bene het opgehou bewe en ek kon die res van die dag op my eie stil, rustige en eenvoudige manier deurbring.  In my eie bad, op my eie stoep, op my eie bed en op my eie laptop het ek die res van die dag gebad, gevreeteet, geslaap en gelees… net soos ek daarvan hou!

Ek het jare gelede al die vergrype van Oujaarspartytjies afgesweer want ek verkies ‘n koelkop bo ‘n kreupelkop op nuwejaarsdag.  Vandag het ek rustig die nuwe jaar voortgesit presies soos ek die oue uit is.  Stil en rustig en tevrede in my eie eenvoudigheid. 

Ek hoop 2010 het in dieselfde tevredenheid vir elkeen van julle begin en dat dit enduit sal hou.

Groetnis, Anna

2 responses to “Gepomp op Oujaar!

  1. Dit klink sooooooo bekend . . . vervang net die Safari met F250 en remme bloei met clutch bloei en dis ons storie van die afgelope 2 weke . . .

    Ek is ‘n excellent pomper! En my hubby sê ôk so . . .😳

  2. Jis, ons hubbies is darem gelukkig om sulke goeie pompers te hê (he,he,he)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s