35 – 1 = ‘n Wonderwerk

Vandag, 34 jaar gelede, was ‘n Saterdag en dit het gereën.  Dit was ook die dag dat ek en my Matroos ons stapstewels aangetrek het, ons soutrugsakke oor ons skouers gehaak het  en die eerste tree gegee het op ‘n 34 jaar lange staptog berguit.  Ons het daardie dag  die onbekende paadjie van die huwelik saam aangepak en ons is steeds saam oppad na die kruin toe.

Geen bergpad is ooit eentonig, reguit of gelyk nie.  Groot dele was deur groen klowe, langs vloeiende strome en by koel poele waar ons saam die verfrissende bergwater kon drink, kon uitrus en kon voorberei vir die steiltes vorentoe.  Ander kere was dit maar steil opdraand, oor rotse en soms het dit ‘n kettingleer gekos om ons bo te kry.  Dan was daar ook die kere wat ons teen steil afdaandes op afgronde afgestorm het, maar een van ons kon altyd die ander een betyds gryp en terughou.  Daar was vele omdraai en ander paaie loop wanneer die paadjie homself doodgeloop het teen onoorkombare rotshange en die stryd van keuses maak, oor wie vir wie moet volg op watter pad, wanneer die paadjie in twee rigtings bosin verdwyn het, was soms bloediglik.  Die moeilikste was die vervelige koentoerpaaie waarop onsself soms bevind het – eentonig en uitmergelend met die son wat neerskroei op ons en ons velle plek, plek rou brand, maar ons het gou geleer, kontoerpaaie hou op, en dan is dit weer groen koeltes en koel poele.   Ek glo die kruin is naby, want vandag kan ons, steeds saam, die nuwe dag al oor die kruin sien breek… ons is amper daar!

(Die wonder dat ons steeds saamstap, skryf ek aan slegs twee dinge toe:  Die eerste is ons altwee se hardkoppigheid om op te gee (dis nou in die tye toe ons niks van mekaar gehou het nie) en die tweede, maar belangrikste, is dat ons eintlik nog nooit alleen gestap het nie.  Die Genade het ons al van doerrie tyd af aftervolg en het ons nog nooit uit sig verloor nie. )

14 responses to “35 – 1 = ‘n Wonderwerk

  1. Baie geluk! Dis uiters besonders as mense so lank al saam is en nog steeds saam WIL wees & van mekaar hou!

  2. Dankie Krista, maar stadig nou, wie het enigiets gese van, “van mekaar hou” of “saam WIL wees”? Toemaar ek spot net. Daar was baie tye wat ons glad nie van mekaar gehou het nie, en dit gebeur nog gereeld, maar ons het altyd lief (werkwoord) gebly vir mekaar soveel so, dat ons nou nogal WIL saam wees.

  3. Wow! Baie geluk en welgedaan.
    Mense soos julle dien as voorbeeld en inspirasie vir ons wat onlangs eers daardie staptog aangepak het

  4. Soos my ouma eendag gese^ het; “Aan skei het ons NOOIT gedink nie, maar aan moord… BAIE kere! 🙂

  5. Dankie Plasie, nou voel ek skoon oud (lol).

    Ja Sonkind, ek wou baie kere dat hy die afgrond oor, maar ek het darem elke keer gegryp en teruggeruk… hy seker maar ook!

  6. Geluk Anna….. Dit bly maar ‘n groot stuk genade – GROOT. Jul troudag – my verjaardag 🙂
    En jul tyd saam is dubbeld ons tyd saam (en ek dink ons s’n is ‘n wonderwerk 😯 )

  7. Jinne Ou Anna… Klink my ek moet jou tannie noem? 🙄

    Dit gee hierdie loskop weer hoop…. Die liefde (alhoewel dit harde werk mag wees) bestaan wel!

  8. Sjoe, baie baie geluk!! En beste wense vir die nuwe jaar!

  9. Ant Anna…. Wat gaan hier aan dat daar niks aangaan nie? 😕

Lewer kommentaar op ekisanna Kanselleer antwoord