Onthou om Asseblief en Dankie te sê (en moenie in die bed piepie nie).

Ek woon in ‘n baie mooi dorpie, in ‘n baie mooi deel van ons land, met baie mooi vakansie-oorde en lodges in die omgewing.  Dis in die hartjie van die Bosveld en net so ‘n vinnige twee-en-‘n-halfuur van Johannesburg af op die snelweg. 

Dit is ook ‘n dorpie met ‘n hoofstraat met ‘n Friendly, ‘n Spar, ‘n Wimpy en ‘n KFC.  Dan is daar darem nog ‘n Pep, ‘n Foschini, ‘n Pages en drie banke ook.  Ons het een eetplek, een apteek, ‘n paar garages, ‘n klompie kafees en meer drankwinkels as wat ons nodig het.  Dit is rofweg hoe ons dorpie lyk, maar weet julle wat?  Dit is al wat ons nodig het.  Dis genoeg vir ons en ons is gelukkig met dit, anders het ons stad toe getrek.

In ons dorpie groet ons nog mekaar met die hand en vra uit na mekaar se ouers en mekaar se kinders.  In ons dorpie ken ons nog ons bure en kuier by mekaar (dis nou wanneer daar die geskinder word nie, maar dit waai ook weer oor).  Ons leef rustig en verdraagsaam (okay, meeste van die tyd) saam in ons dorpie sonder om vir mekaar ongeduldig toeter te druk en ons almal ken Tannie Gerda se bruin Toyotatjie en weet sy stop nie by stopstrate nie. 

En ek vermoed dit is juis hierdie agterlike rustige atmosfeer wat stadsmense aantrek na ons dorpie toe.  Wat ek net nie kan verstaan nie is, as ons plattelandse rustigheid julle hiernatoe bring, hoekom bring julle dan julle stadshaas en ongeduld saam.  En moet my nou nie verkeerd verstaan nie, ons is bly as julle kom kuier… maar net nie vir te lank nie.  Dis iets soos ‘n Ouma en Oupa wat uitsien na die kleinkinders se kuier, maar hulle is darem so bly as kleinkinders Sondagmiddag saam met Ma en Pa in die kar klim en huis toe gaan.

Die res van hierdie pos word net geskryf vir die kuiermense wat dink hulle doen ons ou dorpie ‘n merske guns om te kom kuier.  Mense, kom by.  Vir 48 weke van die jaar kom ons baie goed sonder julle klaar, so julle besoeke is geen guns nie.  Julle is welkom maar moet net nie kom handuitruk nie.  Los julle meerderwaardige stadsmaniere by die huis.  Dis nie welkom hier nie.  Jy kom rus, so wees rustig.  Wees geduldig.  Wees vriendelik, en onthou tog sommer ook om asseblief en dankie te sê – hier by ons doen ons nogal sulke dinge.

En so ver dit die aanvul van ons so te sê uitgeputte geldkoffers met julle baie ponde aanbetref… vir julle wil ek graag op ‘n mooi manier sê waar julle eerder jul ponde kan bêre as om dit op ‘n arrogante manier hier te wil kom rondstrooi, maar ek weet nie hoe om “druk dit in waar die son nooit skyn nie” op ‘n mooier manier te sê nie.

Julle sien, die saak met die vreeslike ekonomiese inspuiting wat ons ou dorpie gedurende vakansietye ontvang, staan so.  Die “base”, wat reeds ryk is, word nog ryker terwyl hulle gewoonlik daardie tyd van die jaar gerieflikheidshalwe bietjie by Margate uitspan, maar die arme mens wat jou, liewe kuiergas, moet bedien, en jou liewe kuiergas, se aanmerkings oor “hierdie plek” moet verdra, kry steeds net sy gewone salarissie (R1,500 – R3,000) per maand, maar skielik verdubbel sy werk en stress en dan word sy werksure ook nog verleng om ‘n goeie diens aan ons besoekers te lewer!  Jou stadsponde beteken dus minder as niks vir daardie mens wat met jou moet deel nie, so ja, vergeet maar liewer van wat jou ponde vir ons ou dorpie beteken.

So al julle liewe GP’s en MP’s wat skuldig is, wonder julle nog steeds waarom julle soms ‘n skewe kyk van ons af kry?

Baie GP’s (en MP’s) vind ons baie vriendelik en gasvry.  Hulle is die besoekers wat goedgemanierd en vriendelik is en hulle bring die beste in ons uit.  As jy ons dus as onvriendelik ervaar het met jou laaste besoek, los volgende keer jou arrogansie tuis en pak ‘n bietjie goeie maniere en vriendelikheid in en sien hoe behandel ons jou dan!

9 responses to “Onthou om Asseblief en Dankie te sê (en moenie in die bed piepie nie).

  1. ENCORE!!! Bravo!! Net iemand wat hier woon sal jou presiese redenasie volg en verstaan presies (tot op die letter) waaroor dit gaan.

    Ek stem jou sommer in vir die volgende verkiesing as promotor van toerisme in Mookgo….

  2. Dankie (Buur)Huisvrou. Dit gaan dalk net ons twee wees wat so voel.

  3. Ek het altyd gewonder hieroor. Weet jy, my maniere is een van die dinge wat ek altyd eerste inpak vir vakansie…. en hel, dit is waaroor wegbreek en op vakansie gaan, oor RUS en alles bietjie stadiger vat. Ek is eintlik ‘n model besoeker waarookal ek gaan…. want ek is mal oor die klein-dorpie atmosfere waar alles net soveel rustiger gebeur. Neem volgende keer foto’s van hulle nommerplate en stuur dit vir watkykjy.co.za ….

  4. Plaasjuppie

    Ek het nog nooit in skewe kyk of suur gesig daar in julle dorpie ervaar nie, so ek reken ek is dan een van die minder onuitstaanbare ergenisse? Bygesê, ons kom kuier ook veel eerder in die stil tye op julle dorpie. Dit maak tog geen sin om te vlug uit die stad net om weer tussen dieselfde lot op te eindig nie?

    Eindelik kom dit seker maar weer neer op gewone common decency. Respek en goeie maniere kos niks, en as mens dit volg sal stadsjapies en dorpenaars goed genoeg oor die weg kom.

  5. Hmm… Wys jou ek dog dan die heeltyd jy is ‘n MP… Is jy dan ‘n L?

    Ek glo ‘n mens moet altyd beleefd wees… met almal… Dis net die regte ding om te doen.

  6. Jis, julle word almal uitgenooi om te kom kuier want dit lyk my ek het nou vir die verkeerde gemeente gepreek. Ja Girl, ek is een van die Limpopolle.

  7. Girl, se net wanneer!

  8. Ek wil nou nie hoes poep of skinner nie, maar ai, die vakansiegangers is nogal ‘n pyn in die gat. Nie net op die klein dorpies nie.

    Sjoe, en weet jy wat…vandat die Kaap die nuwe ‘in ding’ geword het, het ons ook skielik moerse ongeskikte bestuurders…..almal wat afgetrek het en die GP nommers verruil het!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s