Die mans in my lewe

Soos elke ander vrou het ek vandat ek die eerste lewenslig aanskou het, mans in my lewe wat bygedra het, en steeds bydra, om my die persoon te maak wat ek is.

Anna en Pappa - 1954

My pa was die eerste man in my lewe .  Vandat ek kan onthou, was hy daar.  Hy was groot en sterk en ek het geweet, die mens wat met my skoor soek, soek skoor met hom en hy het nie maklik tweede gekom nie. 

Ek het twee broers maar van kleintyd af, was my oudste broer my tweede pa.  Ek is ‘n laatlam en hy is 14 jaar ouer as ek.  Hy is die een wat my aangemoedig het in alles wat ek aangepak het.  Hy is ook die een wat vir my standaarde gestel het, uitdagings aan my gestel het, en so gehelp het om die mens Anna te vorm tot wat sy vandag is.

In 1975 het ‘n nuwe man my lewe gekaap.  Hy was ‘n romantiese matroos wat roosblare op my badwater gestrooi het en my na die Glen D’Ora geneem het vir lang romantiese etes gevolg deur lang romantiese…  (bly stil Anna, jou kinders lees ook jou blog).  34 Jaar later speel hy steeds die hoofrol in my lewe.

In 1982 het ‘n nuwe man in my lewe gekom.  Hy het my voete onder my uitgeslaan op ‘n manier wat ek nooit geweet het bestaan nie.  Met sy 3,5kg lyfie het hy hom in my hart en lewe kom inburger.  My “goed so” seuntjie.  Wat jy ookal sy kant toe gegooi het, was altyd “goed so”.  Vandag is hy ‘n ses voet lummel van ‘n polisieman, maar steeds net so ingeburger in sy ma se hart soos 27 jaar gelede.

Dinsdag, 9 Februarie 2010 om presies 14h14 het ‘n nuwe 3,6kg man homself in my lewe en hart kom vestig.  Een kyk wat sê: “Wie is jy?” van sy wasige blou ogies en sy ouma weet, daar is ‘n nuwe man in haar lewe.  Net soos sy pa 27 jaar gelede gedoen het, het hy ook my voete onder my kom uitslaan.

Net een uur oud.

12 responses to “Die mans in my lewe

  1. Ag moeder. Hy is handsome. Kan ek hom maar kom steel?

    BAie, baie geluk. Ek weet sommer dat hy groot vreugde vir die familie gaan bring.

    • Dankie Xena, jy kan probeer, maar dit sal dalk makliker wees om die kroonjuwele te steel. Behalwe vir die oumas, die oupas, die ma en die pa, is daar die twee tantes om by verby te kom. Ek kan nie wag vir die naweek nie, dan gaan ek hom op liefies.

  2. Baie geluk Ouma – hy’s pragtig.

  3. Ag, jimmel! Sit ek nou hier met trane in my oge!

    Geluk, Anna, dit moet iets baie spesiaals wees! 😉

  4. 😆 Ek kan al sien hoe Ouma bederf

  5. Jippers Ouma!!! Veels Geluk jong. Enne nou lepellê jy met ‘n oupa né?

    Wat van ‘n foto van jou se eie 3,5kg bondeltjie ….??

    Sê vir die ouers ook Veels Geluk hoor en geniet en bederf maar wat – dis hoekom kleinkinders oupas en oumas het.

    • Dankie Huisvrou, Ek slaap al lankal saam met ‘n oupa. Ons kleindogter word hierdie jaar 8, maar omdat ons so lank gewag het vir die volgende enetjie, voel dit nou weer soos ‘n eerste enetjie.

  6. rianabrand

    Veels geluk aan julle almal….en geniet jou kleinkind “ouma”. Hoop dat jy die volgende generasie ook kan meemaak.

  7. Welkom Riana en dankie. Volgende generasie? W-w-wag nou ‘n bietjie. Ek dink nog nie so ver nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s