Eendag, lank, lank gelede…

Ek verlang vandag terug na ‘n dogtertjie en ‘n lewe van lank, lank gelede.  ‘n Dogtertjie wat alles gehad het wat haar hart kon begeer,  in ‘n lewe van eenvoud sonder luukses.

My vroegste onthou is van speel saam met Laka onder die groot doringboom in die agterplaas, op die swaai wat my pa van ‘n ou omgekeerde buiteband gemaak het, en aan ‘n tak van die doringboom gehang het.  Op daardie swaai het ek en Laka vir ure gespeel.  Eers stoot sy my op die swaai en dan weer ek vir haar en dan ruil ons weer om.

Laka se ouma, Sanna, was my ma se huisbediende.  Haar ma was ‘n slegmeid wat weggeloop het met ‘n ander jong en haar pa was ‘n tsotsie, so daar is maar min oor hom gepraat… net so nou en dan het ons gehoor dat die polieste hom in die pickup kom haal het,  en dan niks meer vir maande nie.

In die middel van die oggend was daar Siembamba.  Ek onthou vir my en Laka op die koel linoleum tapyt voor die gramradio, elkeen met ‘n bekertjie melk, of as ons gelukkig was gemmerbier, en ‘n peanut-botter-en-jêm toebroodjie, in die koel skemer van die sitkamer. (Jêm ja, konfyt was stukke kafferwaatlemoenskil in stroop gekook en in ‘n bottel ingelê).

Smiddae, wanneer die skaduwees van die bloekombome  koelte maak oor die sinkdam, kon ons swem, maar ook net as die dammetjie amper leeg was.  Die groot kinders het in die sementdam by die rietbos geswem, maar ek en Laka was bang vir diep water en was tevrede met die kuitdiepte water in die sinkdammetjie naby die huis, waar my ma ons deur die kombuisvenster kon dophou.  Ons was nie bang vir die rietbos nie, en het baie keer daar gespeel tot my pa eendag ‘n rinkhals daar gekry het.

Ek kan nie onthou dat dit ooit winter was nie, maar ek onthou wel dat die somer begin het as die ice cream booi met sy driewielfiets oor die bult gekom het en sy klokkie gelui het.  Dan was dit somer.  Dan het ons water suckers of cherry top roomyse gekry.  Covent Garden Cherry Tops was die lekkerste roomys wat ek nog ooit in my lewe geproe het.  Geen ander roomys kon nog ooit daar naby kom nie.

Die een ding wat dalk naby aan die lekker van Cherry Tops gekom het, was kondensmelk.  So nou en dan het ek ‘n blikkie, sulke klein blikkies was daardie dae te koop, gekry en dan het ons twee gaatjies aan die bokant gekap en dan het ek en Laka so om die beurt die soet heerlikheid uit die blikkie gesuig.  Ek kon natuurlik twee suie kry as dit my beurt was en sy net een, want dit was mos darem my kondensmelk!

Voordat my pa van die werk af gekom het, het Sanna en Laka huis toe gegaan.  As hy by die huis kom, en nadat hy ‘n bietjie koffie gedrink het was dit my werk om sy skoene uit te trek, sodat hy ‘n bietjie op die bank kon lê en rus voordat hy na die tuin en die melkery gaan kyk.

Eendag het ek in my kleuterwysheid besluit dat ek nie sy skoene gaan uittrek nie.  Waar die rebelsheid daardie dag vandaan gekom het, weet ek tot vandag toe nie, maar die gevolg van die daardie rebelsheid onthou ek tot vandag… die eerste pak slae wat ek ooit by my pa gekry het.  Ek onthou goed hoe kwaad ek agterna was, nie oor die paar houe op my agterent nie, maar oor die onregverdigheid van die lewe!  Sien, hy het skoene aangehad en ek was kaalvoet en hoe moes ek weet dat daar in die pad van my vlug ‘n plaat dubbeltjies gegroei het.  As dit nie vir die dubbeltjies was nie, het hy my nooit gevang nie!

Na my eerste vyf jaar in die ou huis, het my pa vir ons ‘n nuwe huis gebou en min het ek toe besef dat dit die begin van ‘n nuwe hoofstuk in my lewe sou wees.  Kort voordat ons na die nuwe huis toe getrek het, het Laka se ma eendag opgedaag en onder groot lawaai en baie geweeklaag van Sanna, haar weggeneem.  Ek wonder steeds wat van haar geword het.  Waar is sy vandag?  Leef sy ooit nog?  Het haar ma so goed vir haar gesorg soos haar ouma?  Ek weet nie, maar ek bly wonder.

22 responses to “Eendag, lank, lank gelede…

  1. Ai, dit was mos nou lekker “care free” dae. Ek het ‘n Sarah gehad met sulke krom vingers wat vir Ouma gewerk het – sy’t my geleer pap en marog eet, sommer so met my hande, want dit proe anders as met ‘n vurk of ‘n lepel………dis lekker onthou dae.

    • Haai Charms, ek geniet dit vandag nog om stywe pap in so ‘n bolletjie te rol en in die sous te druk, maar moet asseblief vir niemand vertel nie – dis soooo barbaaaaars!

  2. Ek het nou lekker gelees. So baie goed wat jy noem, is ook aan my bekend. Dit was regtig sorgelose dae, maar ek wonder of vandag se kinders daarmee sou kon cope? 😆

  3. Was jy darem slim genoeg om volgende keer eers skoene aantetrek voordat jy geweier het om jou pa s’n uit te trek? 😆

    Ons het ook dikwels met die bediende(s) se kinders gespeel. Lucky-Boy is seker die een wat ek die beste kan onthou. Die ander was maar skaam.

  4. Dis lekker om so terug te dink aan daai sorgelose dae.

  5. Daar is niks so mooi soos herinneringe nie. Niks nie.

    • Ek kan my net indink in wat alles uit jou herinneringe sal kom. Klink nogal of jy ‘n regte knapie kon gewees het op jou dag. Miskien moet jy ons so ‘n bietjie vertel.

  6. Dankie! Dis pragtig! Toe laat jy my sommer tjank!

  7. Pingback: Wanneer word kleur sigbaar? « Herriemerrie

  8. My ouers was seker rasisties, maar hulle was anders rasisties. Ek is geleer dat mense van ander rasse/kulture nie noodwendig slegter as ons was nie, hulle was net anders. Ons kinders is geleer om Aia en Outa te gebruik as aanspreekvorme (iets soos Tannie en Oom vir swartes) en behoede ons as my ouers ons anders hoor praat het.

  9. Ons was bevoorreg om in daardie tyd kind te wees. Waaroor sal vandag se kinders eendag kan heimwee kry? Oor MXit, videospeletjies en shopping malls? Dis maar ‘sad’

    My Laka se naam was Dafne en haar ma was Aia Anna. Aia Anna was my tweede ma.

    • Presies Sonkind… ek sit juis nou weer hier en dink. Dit gaan heeltemal ander herinneringe wees.

      • 😆 Ek onthou vir Minah. Sy het vir amper 40 jaar by Ouma gewerk…. en sy kon ‘n backhand uitdeel wat ek nou nog kan voel brand.

      • Oo! Ai Anna kon ‘n mean pak slae gee, hoor. My ma het gewerk en ons het geweet dit help nie ons klae by my pa nie, want dan kry ons sommer weer pak slae. Sy het ons darem net geneuk as ons REGTIG onmoontlik was. En ek het minder pak gekry by haar as my suster😉

  10. Sonkind, dankie vir daardie Aia Anna. So bly daar is nog mense wat groot geword het met respek vir die groot (swart) mense. My kinders het gelukkig die MXit en videospeletjies era net, net gemis en het nog in die veld gespeel en skelm vuur gemaak. Hulle is nog nie eers oud nie maar hou al klaar hulle “onthou jy” gesprekke en dan laat hulle soms my hare rys met wat hulle vertel. Dink jy nie dat as kinders net die geleentheid gegun word, hulle weer sal leer speel nie?

  11. farid kara

    a very heartwarming and entertaining yet true and sensitively touching story. reminds me of the film “lollypop” made about 35yrs ago

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s