My onkunde oor Good As You mense

Vandat ek blog, het ek vele kere te doen gekry met besprekings oor homoseksuele mense en ek het begin agterkom dat daar baie meer by betrokke is om gay te wees as wat ek ooit besef het.  Ek wil hier vir alle gay bloggers vra om asseblief geduldig te wees met my wanneer ek hier skryf. en eers klaar te lees voordat julle ‘n mening vorm of kommentaar lewer. 

My eerste kennismaking met  ‘n homoseksuele persoon was baie jare gelede, toe ek ongeveer 19 jaar oud was en pas tot bekering gekom het.  Ek was in Kaapstad en het saam met ‘n groepie jongmense, baie laat die aand, die destydse Dock Road ingevaar om evangelisasie onder die prostitute te gaan doen.  (Nou laat dit my keel toetrek as ek net terugdink aan ons voortvarendheid – ons het dalk meer skade as goed gedoen.)  Onthou asseblief dat daar daardie jare bitter min gepraat was oor homoseksualiteit en ek was dus 100% naief oor so iets.

Ons het traktaatjies uitgedeel en met die ladies of the lampposts gesels en as ek nou terugdink, dan is ek verstom oor die positiewe manier waarop hulle ons verdra het; miskien het hulle tog iets nodig gehad wat ons op ‘n obskure manier voorsien het.  Een van hulle het met my begin gesels en ek het haar opgewonde begin vertel dat Jesus haar liefhet en dat sy net nodig het om te kniel en te vra en hy sal al haar sonde vergewe.  Ek was stomgeskrik toe sy vir my vertel dat sy eintlik ‘n man is.  My eerste kennismaking met ‘n transvestiet en ek het die helse vuurtonge so aan my voete voel lek.  Nodeloos om te sê, ek het die hasepad gekies en net daar alle drome oor geredde-prostituutpêrels in my kroontjie vaarwel toegeroep.

Die eerste keer na hierdie voorval wat ek weer kontak met gays gehad het was in 1975 toe ek vir Hans ontmoet het.  Hans was ‘n sesvoet, swartkop Adonis van ‘n Duitser en as dit nie was dat ek toe reeds halsoorkop verlief was op die matroos nie, sou my hart in skerwe gewees het toe ek uitvind dat Hans gay is.  Matroos was soms vir lange tye afwesig en dan het Hans my vergesel wanneer ek uitgegaan het.  Hans was egter baie introverties en dit was nie anders as om met ‘n ander man uit te gaan nie, behalwe dat ek nie die hele tyd vir m wickets moes keer nie, en by hom het ek ook niks van die gay lewenswyse leer ken nie. 

Om en by dieselfde tyd het ek vir Micheal en Aubrey ontmoet.  Steeds redelik naief, was dit vir my ‘n groot skok om uit te vind dat hierdie twee mans eintlik ‘n gay couple is.  Ek was egter dol oor die twee.  Hierdie twee mense was albei ongelooflik talentvol en my bewondering vir hulle as kunstenaars het naderhand die wete dat hulle gay was, en dus “anders” was, heeltemal oorheers totdat hulle vir my net Micheal en Aubrey was.  Ek vermoed dat hulle soms my naiewe siel ongenadiglik uitgetrek het toe hulle besef het hoe dom ek werklik is in hierdie opsig.  Hoewel ons baie saamgekuier het en baie goed oor die weg gekom het, was dit steeds baie bolangs en het ek hulle nie goed genoeg geken om my enigsins insig in hul psige te gee nie.

Nadat ek en die matroos getroud is het ons weggetrek en ons het alle kontak met hulle verloor.  Vir baie jare daarna het ek geen kontak met enige homoseksuele mense gehad nie totdat ons op hierdie Bosvelddorpie geland het.  Daar woon ‘n hele paar gay mense hier en hoewel ek weet hulle is gay en gereeld in ‘n besigheidsomgewing met hulle te doen kry, ken ek nie een van hulle regtig nie, miskien omdat hulle almal soveel jonger is as ek en ons op sosiale vlak niks in gemeen het nie.

Wat ek wel geleer het tussen die tyd van my eerste transvestiet en vandag, is dat God se liefde en genade vir hulle net so groot is as vir my.  Dit is ook nie vir my om te besluit of hulle gay-wees sonde is of nie… hoe sal ek nou weet as ek nie hul harte ken nie… kindskap van God gaan mos oor wat in jou hart is.

So vir Flintie, Rosalind en Justin, aldrie gay bloggies wat ek baie geniet, wil ek sê:  “Leef jul lewens voluit as Good As You mense, want julle is as good as anybody else.”  Al weet ek bitter min van julle lewenstyle af, geniet ek julle blogs en vermoed ek dat ek julle persoonlik net soveel sal geniet, sou ons eendag ontmoet.  Wanneer ek julle uit onkunde te na kom, help my reg, so sal ek beter verstaan waaroor julle lewens gaan.

11 responses to “My onkunde oor Good As You mense

  1. Ai, ek het al ‘n stel afgetrap oor ‘n kommentaar wat gladnie bedoel was soos dit gelees is nie. As ons nie gewys word wat ons verkeerd doen nie, gaan ons nooit leer nie.

  2. Dis presies wat ek bedoel Charms. Ek het nog nooit ‘n probleem gehad in my omgang met gay mense nie, maar ek tel op dat daar baie meer betrokke is as wat ek van weet en sal slegs kan leer as hulle my vertel.

  3. Hey! Jissie dis cool, jou hart is sooo awesome!! Stuur asb vir my email!

    • Ai Karlien, ek wens my hart was so awesome, maar ek het nog steeds ‘n daaglikse stryd met hom en soms (nogal meer as wat ek graag sou wou erken) ruk hy totaal en al handuit.

  4. Anna, ek moet eerder sharrap, maar ek het ‘n chip op my skouer.
    Ek wens die dag kan kom dat mense net mense is. Nie wit of swart of gay of straight of dit of dat nie. Daar is net soveel swart rassiste as wat daar wit rassiste is. Wat ek eintlik wil se, is dat daar wel sg. straight mense is wat dink gays is reguit oppad hel toe, maar demmit, ek wens ook gay mense wil oor hulself kom. Mens moet so flippen mooi trap en jou woorde tel, want die geringste ding wat nie reg klink nie, word ‘n klip waarmee hulle jou teen die kop mee gooi. Ja, ek weet boggerol van wat ‘n gay mens se lewe en probleme behels. Ek glo daar is obstacles. Maar EK gee nie om of jy ‘n elf of ‘n fairy is nie. As jy kan praat en jy verstaan my en ek verstaan jou, is ons albei mense. Soos ek dit sien, hou baie gay mense daarvan om hulself te onderskei as ‘gay’. Hoekom? Is jou gayness al wat jy is? En wat as ek begin hamer op die feit dat ek straight is? Gaan dit ‘n teken wees dat ek gay-onverdraagsaam is? Daar is erger, beter, groter goed om op te fokus as die kleur van jou vel of jou seksuele voorkeur. En daar is meer goed wat ons saambind as die seksualiteit wat ons skei. Bv. ons is Suid-Afrikaners, ons praat Afrikaans, ons skree vir die Cheetahs (of nie). En omdat daar straight mense is wat nog in die Middeleeue leef, moet alle straight mense oor dieselfde kam geskeer word?

    En nou kan die klippe maar kom. 😉

  5. Vlammetjie, ek hou van jou. Eintlik kry ek ook soms die idee dat dit baie maal ‘n geval is van “kom oor jouself” en moenie alles persoonlik opneem nie, nie noodwendig net wat gays en swartes aanbetref nie, maar selfs ek, wit, calvanisties-pinkstergeworde, afrikaanssprekende vrou… my velletjie is ook maar papierdun soms. Dis net dat ek nie willenswetends mense in die gesig wil vat of onnodig wil seermaak nie. My normale, eerste instink is om op die mens te fokus en nie wat hy verteenwoordig nie, maar ongelukkig werk dit nie altyd nie… o so by the way, ek skree vir die Griekwas, nog altyd!

  6. So Anna, wat wil jy weet? Wat wil jy hoor? Wat wil jy leer?

    • Skoor, feit is dat ek so min weet en verstaan van hulle dat ek nie eers weet wat om te vra nie. Ek wil net he dat as ek iets se of doen wat hulle nie van hou nie, moet hulle dit vir my se en ook sommer verduidelik hoekom nie. Ek verstaan byvoorbeeld nie hoekom sommige gays so ‘n “show” opsit in die openbaar nie, terwyl ander net rustig hul gang gaan. Hierdie mense gee my altyd die indruk dat hulle iets probeer bewys… hoekom doen hulle dit?… en lees ek ooit die situasie korrek?

  7. Jissie Anna, jy vra ‘n wye vraag in 1 sin!

    Net soos jy moffies kry wat faff, is daar butch girls met stomp hare en oprol moue wat bak-arm stap en die shit uit ander scare.

    Straight mans wat vieslike opmerkings maak sodat hulle magtiger voel. Straight vroue wat huwelike opbreek.

    Stout kidz. Soet kidz.

    Ek wens ek het geweet hoekom sommige mense optree soos hulle doen, maar dis nie vir my beskore nie.

    Ons gaan dit ook nie verstaan nie.

    Ek en my maat leef soos normale mense (ons hoop) sonder om iets van ons keuse te probeer openbaar of wegsteek. Ons is lief vir mekaar, trots op mekaar, en ondersteun mekaar. Dis nie vir my belangrik dat mense weet wat my seksualiteit is nie. Maak dit saak? Ken MY. Leer ken MY. Moenie ‘n lable op my soek of ‘n lable aan my hang nie. Ek sal jou tackle dat jy soos Meraai van die dokke deur jou ‘geen voortande’ praat nie! 😆

    Oral in die lewe gaan jy mense sien wat iets probeer bewys. Loud and Proud. Vergewe hulle hulle maniere – dis hulle verwysingsraamwerk. En dit geld oor die hele spektrum heen!

  8. Goeie antwoord, Skoor.

  9. anna ek ht ‘n comment begin skryf maar dit het te lank geword, gaan lees asb my nuutste blog.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s