Dis tyd vir SA se “Silent Majority” om op te staan.

Die afgelope week was daar tot naarwordernstoe beriggewing in die media oor eerstens Eugene Terre’blanche en sy aanhangers en die gebeure en gevolge rondom sy dood, en tweedens oor Julius Malema en sy aanhangers en die gebeure en gevolge rondom sy optredes.

Aan die eenkant van die spektrum het jy fanatiese wittes en aan die ander kant van die spektrum het jy fanatiese swartes, albei groepe gemotiveer en gedryf deur hulle haat en stompsinnigheid.  Albei kante wil die land net vir hulself opeis en gun die ander kant nie die son wat op hulle skyn nie.

Woede en vrees is sonder skaamte aangewakker.  Mense aan beide kante van die spektrum is opgesweep.  Dreigemente is en word gemaak.  Aksies word beplan en bespreek asof daar ‘n groot karnaval aan die kom is… en ek sidder!

Volgens die jaarlikse beraming van Statistiek Suid Afrika, het die land se populasie op bietjie meer as 49 miljoen mense gestaan in Julie 2009.  Natuurlik weet ek nie wat die ledetal van die ANCYL of die AWB is nie (en ek twyfel of mens enige van die twee sal kan glo as hulle jou vertel) maar ek dink nie dis meer as 4 miljoen saam nie.  Dit beteken dat daar 45 miljoen mense in hierdie land is wat nie hierdie twee uiterstes aanhang nie… volgens my Suid Afrika se “Silent Majority”.
Wikipedia verduidelik hierdie term soos volg:  “The silent majority is an unspecified large majority of people in a country or group who do not express their opinions publicly.”  Klink dit vir enigiemand bekend?
Die oorgrote meerderheid van hierdie Silent Majority is mense soos ek en jy, dis nou as jy, soos ek, wil sien dat hierdie land en al die mense wat hier woon, vorentoe beweeg na ‘n plek waar almal in vrede en veiligheid in die opbrengs van ons land kan deel… miskien nie in ons geslag se leeftyd nie, maar dis nooit te vroeg om daaran te begin werk nie.
Wat kan hierdie Silent Majority dan doen om die skaal in ons guns te kantel.  Ons is nie militant nie, ons is nie uitgesproke nie, ons is nie arrogant nie, ons is nie nuuswaardig nie, ons is nie, ons is nie, ons is nie… en dankie Vader, dit is so… ons is nie een van daardie dinge nie want dan sou ons AWB of ANCYL of iets soortgelyks gewees het.  Nou wat is ons dan.  ONS IS DIE MEERDERHEID!
As elkeen van ons, ons net daarop toespits om elke dag respek, vriendelikheid, behulpsaamheid, meelewendheid, verdraagsaamheid  of enige ander positiewe optrede, te bewys teenoor een ander persoon oor die kleur- of kultuurgrens heen, dink net watse geweldige impak dit sal hê. 
Ek werk elke dag saam met meestal swart mense.  Daar is wel ‘n paar wittes en kleurlinge ook, maar die wat ek mee te doen het, is omtrent uitsluitlik swart… en weet julle wat?… oor die afgelope 20 jaar (ja selfs van voor 1994 af) het ek nog nie een keer ‘n probleem met een van hulle op ‘n persoonlike vlak gehad nie, selfs nie met diegene wat al as moeilikheidmakers gereken is nie.  Ons het wel vele kere verskil wanneer dit by werk kom, maar dan weer, ek het al net so erg met wittes verskil wanneer dit by werk kom.
Ek is geensins ‘n “saint” nie, dis bloot dat my ma my goeie maniere geleer het en ek pas dit steeds toe in my elke dag se omgang met ander mense van alle stamme, nasies, volke en tale… en dit werk!  Natuurlik word ek kwaad, en natuurlik is daar mense by die werk van wie ek nie hou nie, en natuurlik raak ek geirriteerd, maar ek het myself geleer om daarmee te cope.  As dit te erg word, maak ek verskoning en loop weg… al is dit net om vir 10 minute in die toilet in te verdwyn😯.
Kom ons praat mekaar eerder moed in en ondersteun mekaar en wen so die stryd wat in ons land aan die woed is.  Kom ons soek en konsentreer op die goeie wat in elke mens is.  Ek glo regtig dit kan werk. 
As jy deel is van die Silent Majority, staan op vir dit wat jou toekom sonder om die wapen (onthou die tong is ook ‘n dodelike wapen) op te neem.  Asseblief mense, moenie net opgee voor ons probeer het nie.

6 responses to “Dis tyd vir SA se “Silent Majority” om op te staan.

  1. Praat vandag met `n dame wat met `n geweer teen die kop aangehou was die dag toe Pieter Woest voor hulle oë vermoor is. Sê sy die mense van die AWB is van hulle sinne beroof om nou te staan en praat van vergelding. Dit is nie hoe dit gedoen mag word nie!
    As ons maar almal so kon dink.
    Maar wat is die oplossing vir al die moord en doodslag?

  2. Weet jy Louwie, ek is glad nie ‘n kundige op hierdie gebied nie (eintlik op geen gebied nie) en se maar net dinge soos ek dit self ervaar en ek glo nie daar is ‘n vinnige oplossing vir die moord en doodslag nie. Dit is iets wat met tyd en baie harde werk aan verhoudinge en opvoeding, weereens oor die kleur- en kultuurgrens, sal geskied. In die tussentyd? Begin werk aan die mense om jou en bid. Wat ek wel weet is dat geweld net meer geweld sal veroorsaak en dit is geen oplossing nie.

  3. Baie goed gestel. Ek stem saam.

  4. Mooi gestel Anna.

    Skynbaar het Ghandi gesê:

    “As ons lewe volgens die beginsel van ‘ ‘n oog vir ‘n oog’, word ons almal blind.”

    Goeie maniere is die eerste stap tot mensliewendheid.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s