Hoort ‘n kind altyd by haar ma?

BLOU-OOG

Eendag lank gelede was daar ‘n jong meisie in standerd 8, Onskuld, en ‘n jong  student, Langhaar.  Kupido se pyle het sekuur getref met die eerste oogopslag en 18 maande later het hulle Pa en Ma geword. Ten spyte van groot teenkanting van almal, het Ouma geweier dat hulle trou totdat hulle gevestig is.

Blou-oog is gebore en het saam met Onskuld by Ouma gebly.  Langhaar het elke naweek kom kuier en klaar studeer.  Toe Bou-oog een jaar oud was, is Langhaar en Onskuld getroud, maar Blou-oog bly vir nog 5 jaar by Ouma om Langhaar en Onskuld kans te gee om op hul voete te kom.  Sy praat elke dag met Langhaar en Onskuld en spandeer elke naweek saam met hulle.  Sy ken niks anders as liefde en sekuriteit nie.

Toe Blou-oog moet skool toe gaan, trek sy by Langhaar en Onskuld in en kort daarna maak Bruin-oog, ‘n sussie vir Blou-oog, haar opwagting.  Blou-oog word groot in ‘n standvastige gesin en omgewing en floreer.  Nou, jare later, is Blou-oog ‘n pragtige, selfversekerde en suksesvolle, volwasse vrou… grotendeels te danke aan die koestering, liefde en sekuriteit waarmee sy van baba-dae af  grootgeword het.   

LIEFDING

Eendag, nie so lank gelede nie, was daar ‘n jong seun, Goed-so, en ‘n jong dogter, Blinkogies.  Goed-so was 15 en Blinkogies was 13.  Die twee het in ‘n klein dorpie op die platteland, net so tweehonderd meter van mekaar af, gebly en het baie vinnig onafskeidbaar geword.  Die ouers, die familie en selfs die bure het gehou van wat hulle sien en die twee so saam-saam sien groot word.

Goed-so en Blinkogies was ewe tuis in altwee ouerhuise en dit was algemeen aanvaar dat die twee saam die lewe sou aanpak… en almal was tevrede en gelukkig.  So tevrede en gelukkig dat toe Goed-so en Blinkogies op 20 en 18 Pa en Ma word, was daar geen veroordeling nie, net aanvaarding en ondersteuning.  Die twee sou trou sodra beide meer gevestig is en in die tussentyd sou die baba, Liefding, gekoesterd so tussen die twee huise, al die liefde en aandag wat ‘n baba, peuter of kleuter ooit sal kan opgebruik, kry.

Pragtige prentjie, nê? 

Net jammer dat dit net vyf maande later opgeskeur is in ‘n duisend stukkies en saam met die prentjie ook Goed-so se hart.  Blinkoog het Man Nr 1 ontmoet.  Geskei, wêreldwys en baie ouer as sy.  Trek Nr 1 het ten spyte van groot teenstand, baklei en pleit deur Die-wat-omgee, plaasgevind stad toe.  Twee maande later vind Trek Nr 2 plaas toe Man Nr 1 vir Blinkogies en Liefding sonder seremonie by ‘n Tante gaan aflaai.  Blinkogies en Liefding moes maar hul eie pad terugvind platteland toe.

Wat Die-wat-omgee nie geweet het nie, is dat dit maar net die eerste van verskeie Man Nrs was en net die begin van vele Trek Nrs was, in klein Liefding se lewe.  Daar is getrek van Noord na Suid, na Oos, na Wes.  Soms net 100 km weg, maar soms ook 1,500km weg van Die-wat-omgee af.

Buiten al die mans en kilometers moes Liefding ook in haar amper 8 jaar al kennis maak met drankmisbruik, dwelmmisbruik en gesinsgeweld.  In 8 jaar was daar nog nooit kans vir wortels plant nie.  Maatjies-maak het sy nog nooit aangeleer nie.  Skoolgaan is iets wat jy net vir ‘n rukkie op ‘n plek doen.  Standvastigheid en sekuriteit is iets wat ander mense beleef.

Deur die agt jaar was daar baie gesoebat dat Liefding by Ouma gelos moet word tot Blinkogies haar voete vind, maar dit is elke keer begroet met:  “‘n Kind hoort by haar ma!” 

Vandag vind ek uit dat Man Nr 4 alweer uitgeskryf is en dat Trek Nr ?? (ek het ophou tel) weer plaasgevind het… en my hart is seer, baie seer, vir klein Liefding wat geen beheer het oor wat met haar gebeur nie en vir ‘n Ouma wat absoluut niks daaraan kan doen nie.

Nou vra ek:  “Hoort ‘n kind altyd by haar ma?”

9 responses to “Hoort ‘n kind altyd by haar ma?

  1. ‘n Kind hoort daar waar dit die beste vir hom/haar is – emosioneel meer as finansieel – en daardie plek is nie altyd by ‘n ma of pa nie. ‘n Ma wat haar naam ‘ma’ werd is, sal die kind se belange eerste stel, al moet sy afstand doen van daardie kind, tydelik of selfs permanent – al is dit hoe moeilik.

  2. Persoonlik is ek dankbaar ek is afgelaai en grootgemaak deur mense wat vir my lief was. Ek wens net Blinkogies se ogies gaan wawyd oop vir wat sy aanvang met ‘n klein mensie.

  3. Ek stem met sonnie, daar waar dit die beste vir die kind is, en dit is nie noodwendig by die ma nie.

  4. Marile Cloete

    Ongelukkig is die antwoord (soos met alles in die lewe!) nie eenvoudig nie.

  5. Die kans dat Blinkogies se oë sal oopgaan is minder as zero. Die kans dat Liefding in ma se spore sal volg is baie groot.
    Tragies beskryf dit nie. Dis onnosel.
    Daar behoort `n wet te wees wat party mense verbied om kinders te hê.

  6. Dankie vir al jul kommentaar. Dit is regtig ‘n sakie wat my baie diep raak en toe ek nou die aan hoor dat die nuutste, “wonderlike” man nou ook al weer uit die prentjie is, wou ek net bietjie stoom afblaas – gelukkig het ek ‘n manier gekry om die storie te vertel sonder om die woorde en sinsnedes wat regtig in my kop gemaal het te gebruik.

  7. Anna, een van die seerste sere is om te sien hoe anner seer maak, en anner seer kry, en mens is magteloos om dit te veranner. Sterkte.

  8. louwie as daar so n wet was het ek nie die ou sproet neus wat die oorsaak van my eerste grys haar was in my lewe gehad het nie, al was dit net vir twee weke in die julie vakansie… ons kinders boet vir ons ouers se onnoselgeid… liefding, aapstert, slimkop, sproet neus… het darm nog n tannie en n ouma wat hulle knee deur bid en ek breuk dit nou in die naam van Jesus Christus dat sy nooit soos haar ma sal wees nie… julle sal blomme op nmy graf moet sit of vir my in die tronk kom kuier voor ek toelaat dat dit gebeur…

  9. Sjoe baie jammer!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s