Wit versus Swart… en grys semels

Ek het in ‘n wit en swart wêreld grootgeword.  Nie wit en swart soos in velkleur of politiek nie, maar wit en swart soos in reg en verkeerd, goed en sleg, mooi en lelik, fluks en lui, ens. 

My pa was uit en uit ‘n wit en swart mens.  Geen verskoning is gemaak of aanvaar nie.  Jy doen ‘n ding reg, of dit is verkeerd en word oorgedoen…  goed genoeg was nooit goed nie.  Sleg was vermy en luiheid was nooit geduld nie.  In menswees het die twee nogal hand aan hand geloop… mense wat te lui was om te werk was sleg en is vermy.   Die gesegde van meng jou met die semels, dan vreet die varke jou op, was toepaslik.

Vandag lewe ek in ‘n grys wêreld.  Grys is die kleur van verskonings maak.  Die kleur van selfregverdiging.  Die kleur van verantwoordelikheid verplaas.  Die kleur van goed genoeg.  Die kleur van semels.

Deesdae wanneer iemand moor, is dit omdat hy in sy jeug te na gekom is.  Wanneer iemand steel, is dit omdat hy ‘n tekort het.  Pleeg iemand bedrog, dan is dit omdat dit die kultuur is waarin hy lewe.  Molesteer iemand ‘n kind, is dit mos maar net omdat hy/sy self as kind gemolesteer is of nooit seksuele volwassenheid bereik het nie… en so kan ons aangaan en aangaan en aangaan.

Vir alles wat verkeerd is, is daar ‘n verskoning en ons sluk dit af asof dit die kuur is vir al die wêreld se vrot.  Ons is so besig om verskonings te maak en verantwoordelikheid te verplaas dat ons nie meer tyd maak om te dink oor wat ons doen nie en so verleer ons dat alles nie grys is nie, maar inderdaad wit of swart.  Ons kies self om in die semels rond te ploeter.

Ek weet, ek weet, ons moet nie veralgemeen nie… ons is mos almal gelyk voor God.  My vraag is egter:  Waarom moor, steel, bedrieg, of molesteer ons dan nie almal nie.  Ek kan nie glo dat daar een mens op hierdie aarde is wat nooit te na gekom is, ‘n tekort gehad het, of hulself nog nooit in een of ander ongemaklike seksuele posisie bevind het nie en ons almal leef tog in ‘n kultuur van bedrog.  Hoekom moet daar dan altyd verskonings gemaak word vir die wat hulle nie kan beteuel en weerhou van die swart kant van hierdie lewe nie, en dan moet ons medelye hê en verstaan?

Wanneer ek hierdie dinge bedink, kan ek nie help om te wonder of ons nie dalk moet teruggaan na die dae van wit en swart nie.  Dalk moet ons ons kinders weer leer wat die verskil is tussen wit en swart… reg en verkeerd, goed en sleg, mooi en lelik, fluks en lui… en ophou om alles grys te kleur deur verskonings te maak en verantwoordelikheid te verplaas… en om sleg te vermy. 

Een van my gunsteling aanhalings is: “There, but for the Grace of God, go I”,  maar dit beteken tog nie dat ek moet saam “go” as die persoon homself, ten spyte van “the Grace of God” op daardie pad geplaas het nie.  Dalk het dit tyd geword vir ons om ‘n slaggie al die grys semels uit te gooi en weer die wêreld deur ‘n en swart bril te bekyk.

7 responses to “Wit versus Swart… en grys semels

  1. Dankie vir hierie pos Anna. Dis iets wat meer gereeld gesê moet word sodat ons aangespoor kan word om die goeie te leef.

  2. Ek stem saam.

    Kinders moet beslis weet dat daar goed en verkeerd is en dat elkeen hulle eie gevolge dra.

    Mense moes geleer word om nie die mens te oordeel nie. Intussen het mense dit gesien as moenie die daad veroordeel nie. Wat natuurlik snert is.

    • Ek stem saam dat jy nie die mens moet oordeel nie, maar ek wil ook niks verder met hom te doen he nie, tog loop daar moordenaars, verkragters en skelms tussen ons rond asof hulle niks gedoen het nie. Selfs op ons ou dorpie is daar ‘n paar van hulle en hoewel daar uitsonderings is, het sommige van hulle niks geleer uit hul straf nie. Is ek nou verkeerd as ek hulle vermy en ignoreer?

  3. PlaasJuppie

    Dit was baie makliker toe die skeidslyne tussen reg en verkeerd nog duidelik afgebaken was. Grys confuse net die onderwerp.

  4. Marile Cloete

    Stem saam met jou – goed gese!

  5. Swart en wit is beslis in ‘n sekere sin makliker. Ek weet egter nie of mens nie dalk soms mense ‘n helse onreg aandoen as jy ‘n ding in swart en wit sien nie. Ek dink mens mag net in swart en wit redeneer as jy alwetend is. As jy werklik die hart van ‘n mens kan deurgrond. En al wese wat dit kan doen, is God. (Daarmee wil ek nie doodgewone boosheid in die verskansing van “arme verontregte” goedpraat nie, verstaan my goed.) Ek is mal oor mense wat in swart en wit dink. Mens weet absoluut waar jy met hulle staan. Maar self kan ek nie so wees nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s