Mostert na die maal – Supersterre

Ek kan dit self nie glo nie en tog moet ek, want ek het dit self beleef.  Eintlik het ek dit self gedoen!  Ek het die finaal van Supersterre twee keer gekyk: verlede Vrydagaand en weer gisteraand.😯

En weet julle wat, ek het gisteraand weer amper my kleintongetjie ingesluk van pure opgewondenheid en plesier toe Oom Mannie (eintlik ken ek hom as
Oom Skorsie) en die jonge Burger die duet gesing het.  Was dit net die gejuig van die toeskouers, of was hulle regtig so goed?  Ek weet nie, maar ek het dit geniet en sou die vervaardigers ‘n DVD maak van daardie spesifieke optrede, sal ek hom koop.

Ek kom agter dat onse mense baie vol strooi kan wees wanneer dit by musiek oor die algemeen, en Afrikaanse musiek en sangers spesifiek, kom.  Daar is altyd kritiek, of dit nou is oor die stem, die styl, die persoonlike lewe of wat ookal, kritiek is daar.  Ag nee nonsens mense!  As iets vir my mooi is dan is dit mooi.

Sien ek is sommer ‘n ploert as dit by musiek kom.  Ek luister en geniet wat vir my mooi is.  Dis nou van Groep Twee se Oukraalliedjie (nou gee ek seker my ouderdom weg, maar dis ook maar okay) tot by die liewe Pyotr Ilyich Tchaikovsky se Waltz of the Flowers (al het ek dit leer ken net omdat ek as jong tiener Swan Lake en Sleeping Beauty gaan kyk het net om te giggel oor die knoppe in… nou ja, kom ons laat dit maar eerder daar.)

Musiek praat met my siel. Vir elke bui en geleentheid het ek musiek om na te luister.  Ek het spesifieke musiek waarmee ek huis skoonmaak.  Ek het spesifieke musiek waarmee ek fees vier.  Dan is daar musiek waarmee ek verlang en treur en selfs wanneer ek kwaad word, doen ek dit vele kere op die maat van musiek.

Wat maak dit tog saak wie die klanke voortbring.  Dis nie die sanger of musikant se persoonlike lewe of hoe hy of sy lyk wat met my siel praat nie, dit is wat die musiek en lirieke vir my sê wat belangrik is.

Nee wat, ek is maar bly dat ek heeltemal te dom is om ‘n musieksnob te wees.  Skorsie en Burger was vir my ‘n absolute treat en ek hoop regtig dat die naam Burger le Roux net so bekend sal word soos enige van die ander grotes… en ek glo nogal dat hy dit in hom het.  Baie geluk Burger, jy is ‘n sprekende bewys dat aanhouer wen.

6 responses to “Mostert na die maal – Supersterre

  1. Marile Cloete

    Vir my is musiek ook onontbeerlik. Kan nie daarsonder lewe nie.

  2. Ek is net so mal oor musiek. Ek was ook op ‘n stadium ‘n musieksnob en het my neus opgetrek vir die sogenaamde ‘kommin’ Afrikaanse musiek. Vandag kuier ek lekker as iemand daardie musiek moet speel want ek dink almal verdien ‘n kans. Daar is soveel Afrikaanse kunstenaars wat ander moet kritiseer en aangaan oor hoe ‘kommin’ die musiek is, maar in dieselfde asem wil hulle vir Afrikaans baklei en is hulle ‘bekommerd’ oor die taal wat uitsterf. Gun elkeen wat in Afrikaans sing ‘n plekkie in die son, al is dit nie iets waarvan jy hou nie, of ‘n genre wat jy na wil luister nie. Hoe meer Afrikaans hoe beter…

    • Ek is dol oor musiek, maak nie baie kundig nie. Dit gebeur gereeld dat ek ‘n liedjie hoor wat ek van hou en dan verbaas is wanneer ek hoor wie hom sing.

  3. Ek het supersterre die eerste keer met die finaal gekyk. Ek kan net nie vir Patty in haar prinsesrokkies met haar troon handle nie. So, dan kyk ek eerder nie.

    Wat my erger as Patty en haar te klein rokkies en wuiwende haardos geirriteer het, was die feit dat ek weereens bewys gesien het van die feit dat Lianie May.. NIE KAN SING NIE.

    • Ja, ja, man! Patty se gekruekelde … liewer nie anders is ek ook net vol kritiek. Lianie May? Wel ek het niks van haar op my rak nie, so ek weet nie regtig nie, maar wat het jy van Oom Skorsie en die jonge Burgertjie se duet gedink?

      • Maar sy het dan geween op supersterre… op een of ander geheime noot wat net sy ken… hehehe. Elke geval, ek het van altwee die ander duette gehou, want vir ‘n start was hulle op noot en in dieselfde key.
        Ek verwonder myself nogsteeds aan die feit dat sommige mense cd’s kan verkoop.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s