Skaam vir Ma

Ek het ‘n jong-ma-vriendin met ‘n pragtige dogter.  Dogter is nou 16 jaar oud en Jong-Ma-Vriendin is 37 jaar oud en begin klaar die vrese van ek-word-veertig ervaar.  Vanoggend kom vertel Jong-Ma-Vriendin vir my dat sy baie ontsteld voel want Dogter wil nie hê Jong-Ma-Vriendin moet by dieselfde gym as Dogter gaan oefen nie.  Dogter is bang Jong-Ma-Vriendin doen iets waaroor Dogter haar sal skaam.

Ek kon op Jong-Ma-Vriendin se gesig sien dat sy dink hierdie tannie se kop het haar nou helemal gelos toe ek begin lag.  Dalk dink julle ook so!  Wel ek kon nie help lag nie, want ek onthou so goed hoe my eie twee dogters hulself gereeld geskaam het vir hul ma toe hulle tieners was.  Hierdie ma was outyds, sy was lelik, sy was vet, sy was oud, sy was arm, sy was te streng, sy was you-name-something-negative-and-she-was-it!  Die maters se ma’s was natuurlik almal byderwets, mooi, maer, jonk, ryk, pêlle en you-name-something-positive-and-they-were-it!

Gelukkig het ek daardie tyd onthou dat ek myself ook op ‘n stadium vir my ma geskaam het en dat dit alles eintlik net in my verbeelding was.  Met die grootword saam, het die trots op, en respek vir, my ma gegroei en het die besef gekom dat sy beslis meer rede gehad het om haar vir my te skaam toe ek my tiener giere en grille uitgehaal het.  Ek was besig om volwasse te word en sy was reeds volwasse so daar was nie ‘n manier dat ek haar sienswyse kon verstaan nie, maar sy het verstaan wat met my aan die gang was, want sy was klaar daar.

Vandag, vele jare later, lag ek en my dogters lekker saam oor daardie dae, want nou besef hulle ook dat hulle maters maar presies dieselfde oor hul eie ma’s gevoel het.  Die maters het net so skaam gekry vir daardie ma’s waarop my dogters dan kastig so trots sou gewees het.  Vandag sê hulle prontuit dat hulle bly is dat hulle ma ‘n MA was en nie ‘n pêl nie.  Dit wat hulle vandag as hul eie sterk eienskappe beskou, het hulle juis daardie tyd by daardie outydse, lelike, vet, ou, arm en streng ma geleer… en die bonus is dat ons vandag pêlle ook kan wees (natuurlik ook net tot hulle weer ‘n MA nodig het, dan moet hierdie pêl maar weer baie vinnig in haar MA skoentjies inklim).

 Ek is nie ‘n sielkundige nie en ook nie ‘n filosoof nie, dus weet ek nie wat die oorsaak is nie, maar dit is ‘n feit dat tieners, en dit lyk my veral tienerdogters, almal een of ander tyd deur hierdie ek-kry-skaam-vir-ma fase gaan.  Ek hoef ook nie ‘n sielkundige of filosoof te wees om te weet dat dit juis die tyd is wanneer Ma moet onthou dat sy MA is, en nie pêl nie.  Dit is wanneer MA moet onthou dat sy die volwassene is en Dogter of Seun nog op pad is na volwassenheid al wil hulle dit nie weet nie.

 Ek kon Jong-Ma-Vriendin toe darem met alle eerlikheid gerus stel en verseker dat sy, al staar sy die verskriklike Vier Nul in die gesig, niks het om haar oor te skaam nie.  Dit is heeltemal normaal vir tieners om hul vir hul ma’s en pa’s te skaam.  Sy moet net onthou dat sy die volwassene in hierdie situasie is en nie toelaat dat haar tiener se giere en grille haar lewenstyl dikteer nie.  Ek weet, ek weet, makliker gesê as gedoen, maar die vrugte wat jy en jou tiener-wat-grootmens-geword het eendag gaan pluk, maak die bietjie swaardra nou, werklik die moeite werd.

19 responses to “Skaam vir Ma

  1. Ag dis maar deel van grootword ne. Ons was maar seker almal so een of ander tyd, maar gelukkig is dit nie permanent nie.

  2. Marile Cloete

    Ek het my vreeslik vir my ma geskaam, veral as ons in die winkels was (wat maar min gebeur het!). Sy het netmooi alles verkeerd gedoen in my oe.

  3. Nou nie dat ek ‘n ekspert is nie… maar ek dink dis moeiliker om vandag se kinders deur hulle tiener jare te kry!

    Ek ry mos nou die dag die Gautrein… en daar staan so ‘n 15 / 16 jarige (want daar was nie meer sitplek naby haar ouers nie en sy wou nie alleen êrens anders gaan sit nie.) Sy bly toe haar pa raak slaan met haar handsak en toe hy haar vra om dit van skouer te verwissel toe sê die merrie so ewe… You’ll survive… en staan toe voort! Ek was stom-verslae!

    • Girl, dit hang alles af van hoe hulle grootgemaak is. My Rooikop sal dit nie survive nie.

      • Charms, en sy sou dit seker nie eens probeer het nie, want sy weet seker van kleins af van beter. Die gehoorsame ouers van vandag verstom my.

    • …en hy doen toe seker niks nie, net soos hy al van haar babadae af niks gedoen het om haar respek en maniere te leer nie. Ek is net dankbaar bly dat ek nie vandag kinders hoef groot te maak nie, want hoe nou gemaak as joune die enigste is wat in die bek geruk word vir swak gedrag?

  4. Sowaar Anna, ek is 39 en dogter 16…… Alles WAAR so baie WAAR – my ma was 27 jaar ouer as ek – sy was dus 43. Baie oud vir haar tiener dogter!!!

    • Jy sal dan verstaan hoe swaar ek gekry het:mrgreen: want my ma was 38 jaar ouer as ek, maar nogtans sou ek dit nooit gewaag het om haar sonder respek te behandel nie. 39 en 16… mmmm… net ‘n groot genoeg verskil vir MA wees en tog maats wees ook.

  5. Anna, my Rooikop is ‘n 18 jarige seun😛 en jy’s heeltemal reg, hy sal dit nooit waag nie.

    • ‘Skuus tog, moet hom maar liewer nie vertel nie. Ek het ook ‘n rooikop, maar ek kan haar nie dogter noem nie, sy is al 32.

  6. Ek het eendag gesien hoe ‘n pa vir sy dogter (seker so 9 / 10 jaar oud) die motordeur oopgemaak het. Dit was vir my regtig ‘n gebaar wat beindruk het.

    As hy sy dogter met soveel respek behandel, hoe behandel hy die ander vroue in sy lewe. Ek is seker hy sou sy sitplek in die trein vir sy dogter opgeoffer het.

    Sy sal hom gerespekteer het vir die man wat hy is. Nie uit vrees van wat hy haar mag aandoen as sy hom nie respekteer nie.

    Respek wat verdien is, is op die einde tog maar die enigste wat werklik saak maak.

  7. Oor die onderwerp

    Ek kan nie onthou dat dit my ooit gepla het om saam met my ma in die openbaar te verskyn nie. Moontlik omdat ek nie baie “image” bewus was nie.

  8. Ek kan ook eerlik sê dat ek nooit skaam was om saam met my ouers in die openbaar te verskyn nie, maar ek moet bieg dat ek gedink het dat hulle maar ‘n redelik verbeeldinglose lewe gehad het.

    So ‘n jaar of wat terug, toe ek weer so oor die gejaagde stadslewe teenoor ‘n vriendin afpak, tref dit my met ‘n slag dat dít wat my só van my ma en pa geirriteer het, PRESIES is wat ek nou wil hê: Saterdagoggendontbyt rondom die kombuistafel saam met my gesin, bietjie dorp toe gaan, die gezoem van grassnyers in die middag gevolg deur braai en rugbykyk saam met vriende. Sondagoggend kerk toe gaan, ‘n hoendertjie in die oond vir middagete en ‘n uiltjie knip op die bank in die sitkamer agterna. DIS mos nou naweek!

  9. Ek het nog altyd gedink my ma is wonderlik, maar ek dink ook tog ek het destyds gewonder of my maats nie dalk dink sy is outyds nie. Nou lê dieselfde voor vir my met my kinders…

  10. Ek is seker nogal blessed – my kinders sleep my saam gym toe, my meisiekind nooi my altyd as ‘die girls’ virre cocktail gaan en my 22-jarige Teddy-kind raak skoon dikbek as ons nie sokker of rugby saam kan gaan kyk nie. Era (14) soen my kaplaks oppie bek by die skool se hoofingang én waai my agterna…
    Baie BAIE blessed, want ek was beslis nie so ‘n kind vir my ma nie😳

    • Ek stem saam. Jy is blessed. Jy is ge-bless met ‘n houding en verhouding wat dit vir jou kinders lekker maak om saam met jou te wees en daarvoor kan jy jouself ook maar ‘n kloppie op die skouer gee.

      • 😳 (ek speel soms bietjie ‘vuil’ ook Anna…😉 omkoop/afpers isse lelike ding – behalwe as hulle dit nie agterkom nie:mrgreen: (of hulle doen en ek kom nie agter hulle weet en dan speel hulle maar saam🙄 hmmmm nog nooit so daaraan gedink nie.)
        Ek reken solank die ‘spirit’ daar is – maakit nie saak of ons as ma’s soms moet ‘force’ nie. Ons vrek oor mekaar – en dis al wat saakmaak.

  11. Merle van Blerk

    Ek (37) het ‘n tiener (15), ‘n amper tiener (12) en ‘n laatlam in my huis. Al drie seuns. My ma het my baie mooi geleer wat jy saai gaan jy maai. Ek was nie ‘n rebel nie en het my nooit vir my ma geskaam nie. Ek was wel skaam vir ons huis en ons buurt (jy weet bo-dorp en onder dorp) ons was die laaste straat van die onder dorp. Vandag eer ek die Here daarvoor, anders sou ek nie verstaan het hoe voel arm kinders in arm buurte nie. Ons het ons eie besigheid, maar as daar een ding is wat ek my seuns geleer het (al was dit met ‘n paar goeie pak slae) is dit respek vir ouer mense en respek vir arm mense.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s