Road Trip in Teetyd

In haar boek “Sun Signs” skimp Linda Goodman dat die vrou wat onder die sterreteken van die Maagd gebore is, haar man sal los en haar lover sal join “beside a faraway ocean”. Die “lover ” gedeelte klink vir my oorbodig want ek ken die Matroos goed en is heel gemaklik met hom by my, maar die “faraway oceans” klink vir my soos jare se drome wat waarheid word. Hierdie “faraway ocean” hoef ook nie eers in ander lande te wees nie, want daardie ocean onder die berg klink vir my net genoeg om my dorstige siel te les.

Soos julle seker kan raai, is ek onder die einste sterreteken gebore en eie aan die sterreteken, lewe ek my hele lewe lank al in ‘n strewe na perfeksionisme. In ander woorde, ek doen net dit wat reg is, ek tree net op soos dit van my verwag word, ek het ‘n taamlik oordrewe sin vir verantwoordelikheid en ek kyk baie krities na alles en almal om my, en spesifiek na myself. Om so te leef is uitmergelende werk en tans is ek moeg daarvoor! Ek wil ‘n slaggie losbreek uit hierdie saaie bestaan, my lover (Lees: Matroos) aanboord laai, my seile voor die wind oopspan (Lees: die karavaan agter die bakkie hak) en die sewe seë (Lees: die N1, N2, N3, N4, N….. julle kry die prentjie nê…) invaar.

Ek wil weer ‘n slaggie self gaan kyk en beleef wat die matrose van ouds so geïnspireer het dat hulle die gevare van die Kaap van Storms aangedurf het om hulle te kom vestig aan die voet van die donker kontinent, en miskien, oppad my sielerus en vreugde herwin. Heel eerste vat ek die pad Suide toe. Haastig deur die stukkie Limpopo wat oor is, voordat ek Gauteng binnevaar, maar nie vertoef nie, want die uitgestrekte Vrystaatse mielielande en vlaktes lê en wag. Soos ek ry verlustig ek my in die ruimte en rus wat voor my oë verby flits. Verby flits ja, want ook hier reis ek haastig voort. Later sal daar wel tyd wees om terug te kom en tyd te spandeer, maar nou, nou is ek oppad na my eie “faraway ocean”. Ek snel voort tot daar waar die Karoo die taxis en geweldmisdaad insluk.

Dan so proe-proe aan Karoo-Lamb-Chops op Richmond en koel, soet water uit ‘n boorgat langs die pad, deur die dorheid en klipkoppe tot daar waar die Hexrivierpas my vrylaat in die asemrowende toegangsvallei van die Wynland. Hier begin ek staanplek soek vir ‘n nag of wat, want ek weet, hier sal ek weer my sielerus beginte vind.

Omring met berge en gesus deur die die stroompie oor die klippe in die rivier, met die geklank van die volkies se geredekawel op pad terug van die werk af, wil ek tent opslaan (die karavaan het mos ook ‘n tent). Teen skemer wil ek so half bergoploop en net daar gaan sit en sien, en hoor, en voel hoe die dag aan sy einde kom, my oë gestreel deur die laaste lig oor wingerd en plaasopstal.

Dan die volgende dag, rustig deur die Breëriviervallei, met die vooruitsig van die Kaap net anderkant die berg. Nie deur die tonnel nie, maar Du Toitskloof oor. Soos die paadjie my op, en op, en op, neem teen die berg, sal my afwagting klim, en klim, en klim, want ek weet, net om daardie spesifieke draai, sal ek stop en my weereens verstom staan en staar na die skoonheid van hierdie stuk aarde met sy tafereel van damme en lande, waar my geskiedenis sy wortels geskiet het. Ek wil vir Tafelberg sien, met of sonder wolk, met of sonder mis, soos hy my vriendelik naderwink daar anderkant Pêrelberg, voordat ek bergaf begin kronkel oppad na my “faraway ocean” …. …en toe roep my baas my…..

13 responses to “Road Trip in Teetyd

  1. Ai, jy het my nou net weer laat besef hoeveel kere ek my seeninge moet tel omdat my huis hier neffens daardie “far away ocean” is. Al droom ek dan ook soms oor ander verre oseane.

  2. Dat die baas so ontydig kan wees.

    Maak seker dat jy bo-op die Platklip verjaar. En hoop maar dat jy nie teleurgestel gaan word nie.

    • Ag ja jong! Ek dink base loop ‘n spesiale kursus in ontydigheid:mrgreen:
      As mens so in jou verbeelding toer dan word jy selde of ooit teleurgestel en vir die verjaar, sommer hier by die huis op die stoep met die hordes om my.

  3. Ag hoe lekker was hierdie virtual trippie nou.

  4. Hoeveel mense kan in jou karavaan inpas?

  5. Hoe sê julle? My naam is gat. Ek gat saam!

  6. Ek sit langs die N1 op my tas… net so duskant Colesberg. Wanneer kom jy nou verby?😆

  7. Die lewe is ‘n reis. Die branders vee ons spore uit, en die lug vou agter ons toe asof ons nooit daar verby gegaan hettie.😉
    So mooi gedroom Anna, ek sou ook wou saam.

  8. Ai mense, julle sal maak dat ek sommer regtig die karavaan hak en koers kry… Ek bou die lugkastele en julle verf hulle die mooiste kleure.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s