‘n Klein wit klippie

Die afgelope week of wat het ek bietjie in die kulture van die mense van ons land gaan delf en op baie interessante dinge afgekop.  Ons witmense leef skouer teen skouer met ons swart landsgenote saam, maar weet eintlik bitter min van hulle af.  Dis jammer, want soos ons meer van hulle kulture, tradisies en rituele leer, so verstaan ons meer en meer waarom hulle op spesifieke maniere optree in spesifieke situasies.  Ons meet ook gewoonlik die ander kulture aan westerse maatstawwe, wat eintlik ‘n fout is, want ons leef in Afrika, nie Europa of Amerika nie.

Ek het byvoorbeeld geleer van die AbeLungu.  In die sewentienhonderds het daar ‘n skip aan die Wilde Kus vergaan en ‘n klein dogtertjie, Bessy, en drie wit mans het op die strand uitgespoel.  Hulle is deur die Xhosas versorg en is later totaal in die gemeenskap ervaar.  Klein Bessy is met ‘n koninklike Xhosa getroud en ‘n hele nuwe stam het deur haar en haar mede drenkelinge tot stand gekom.  Hulle bestaan vandag nog.

Die Vendas byvoorbeeld,  het ‘n heilige meer, geleë in ‘n heilige woud, net skuins anderkant Thoyandou.  Hierdie meer is vir hulle so heilig (sacred) dat enigiemand wat dalk die voorreg sou hê om die meer te besoek, nie normaalweg na die meer mag stap nie.  Hy sou agteruit moes loop, met sy gesig weggekeer van die meer af en slegs wanneer hy naby is, moet hy afbuk en tussen sy knieë deur, en onderstebo, na die meer kyk.  Volgens hul oorlewering woon daar ‘n wit krokkedil in die meer en niemand sal ooit in die meer was of swem nie.  Daar woon ook ‘n baie groot slang in die meer wat verantwoodelik is vir die fertiliteit van hul vrouens – vandaar die bekende slangdans van die jong Venda meisies.

In een van die Ndebele (ek is nie seker nie, maar dit lyk of dit hulle is) stamme weer, mag ‘n man of meisie wat trou buite die stam, nie weer terugkeer na die stam toe nie, selfs vandag nog.   In hierdie stam is dit ook nie noodwendig ‘n man wat as leier beskou word nie.  Sou ‘n vrou die oudste oorlewende in ‘n familie (exteded family) wees, dan word sy as die matriarg gesien en sy is die een wat die finale sê het wanneer daar gemeenskaplike besluite geneem word.

So kan ek aangaan en aangaan, maar ek besef nie almal vind hierdie goed interessant nie, so ek gaan nog net enetjie vertel.  Ek kon nie bevestig of hierdie een werklikheid is of net legende nie.

Die koning van hierdie nasie moet ‘n klein wit klippie insluk wanneer hy aan bewind kom en wanneer hy dan tot sterwe kom, word sy lyk nie dadelik begrawe nie.  Die lyk word eers deur vrouens weggeneem na ‘n geheime kraal waar geen mans toegelaat word nie en daar op ‘n stellasie gelaat totdat die lyk heeltemal ontbind het, sodat hulle die wit klippie kan in die hande kry.  Dan eers word hy, of wat van hom oor is, begrawe en die nuwe koning word “gekroon”.  Die nuwe koning sluk dan weer die wit klippie in.

Nou kan ek nie help om te wonder nie.  Hoeveel keer in sy leeftyd, moet die koning hierdie klippie insluk, want biologie leer my dat dit wat mens insluk weer aan die ander kant uitkom.

12 responses to “‘n Klein wit klippie

  1. Interessant Anna. Waar kry jy al die inligting?

    Ek het ‘n boek uitgeneem (ja, jy weet mos) met ‘n voorbladprent wat lyk soos die Lions-vuurhoutjieboksie met die titel: Kampvuurstories (of iets in dier voege). Wat vir my baie interessant was in die een verhaal is dat daar semitiese DNS in ‘n stam van die Venda-groep gekry is… Uiteindelik is ons almal deel van Noag en sy gesin😉

    As ek klaar het met die boek sal ek jou laat weet, dan kan jy dit weer uitneem😆

    Groetnis

    • Hallo Huisvrou, Ek dink die boek waarna jy verwys is At the Fireside … van Roger Webster. Hazel Crampton het die storie van Bessie in diepte nagevors en ‘n boek, The Sunburnt Queen, daaroor geskryf. Dit is ‘n baie interessante boek omdat dit jou ook baie leer oor die Xhosa kultuur van daardie tyd, maar net as jy regtig belangstel want dis nogal ‘n lang boek. Qcuma, of Bessie, was byoorbeeld twee keer getroud. Daar is geen kinders uit die eerste huwelik gebore nie, maar wel uit die tweede en dit is die tweede huwelik wat in Webster se boek genoem word.

  2. Marile Cloete

    Baie interessant. Maar ek wonder hoeveel stedelik swartmense weet nog enigiets van hierdie erfenis van hulle?

  3. Sjoe dit is cool, jy kan maar aanhou om ons hierdie goedjies te vertel, dit sal my nooit ooit verveel nie.

  4. Ek het ook dadelik oor daardie wit klippie gewonder.

    Ek het al van die wit vrou onder die Xhozas gelees, maar het nog nooit die detail gehoor nie. Nou het jy darem vir my ‘n naam en ‘n stam gegee. Dalk kom ek nou verder. Baie dankie.

    Ek dink baie van die stedelike swartmense weet en hou aan hulle kultuur vas. Hulle betaal nou nog lobola en trou tradisioneel. Selfs al het hulle ‘n westerse seremonie. Baie van hulle moet nou nog besny word. Groepsdruk is nogal kwaai hierop.

  5. 😆 Jong, jy het nou ‘n blik wurms oopgemaak. Hierdie feitvraat google nou al hele oggend. Interessant, daar is ‘n hoogaangeskrewe boek bekikbaar oor Bessie, en haar nasate se geskiedenis geskryf deur Hazel Crampton, The Sunburnt Queen. (Beskikbaar by Kalahari😆 )
    Toe lees ek ook nou oor die ander clan, amaMolo, wat bevryde Indiese slawe was wat in ‘n Xhosa groep ingetrou het en ‘n nuwe clan begin het…. wag, terug na google😆

  6. Ek bly om te hoor julle geniet wat ek geniet. Ek kan The Sunburnt Queen aanbeveel. Dit is baie goed nagevors en gee jou ‘n magdom inligting, nie net oor Bessie nie, maar sommer baie oor die leefstyl, ander skipbreukelinge en die geskiedenis in die algemeen. Dit is nogal ‘n lywige boek maar die moeite werd. Lekker lees.

  7. ons bib tannie hou net boeke aan wat sy interessant vind. Vir jare al ry die tante al kratte boeke aan magasyn toe, laat dit stempel en pak dit op ‘haar’ rakke terug. Dit verklaar die stagnasie van klein dorpe. Ek het altyd n lywige lys gehad van wat daar was en wat ek ingebring het. Ek het net gevat wat nie op die lyste was nie.

    • Gelukkig stagneer ons bib nie, vra maar vir Huisvrou. Ons het ‘n baie besonderse bib-tannie wat presies weet wat wie lees. Ons betaal almal so ‘n ietsie ekstra elke jaar om vir haar dit moontlik te maak om gereeld nuwe boeke aan te koop. Soveel so dat ek, wanneer ek ‘n boek wil koop, eers by haar gaan hoor of sy hom nie dalk al bestel het nie.

  8. Al wat nou die Boervrou pla, is die naam BESSIE. Is dit ingils uit die 1700’s?? Klink vir my eerder soos die buurman se koei se naam.

    Olga, reel ‘n optog en toitoi! 😆

    • Die naam Bessie was in daardie jare ‘n algemene noemnaam vir meisies wat Elizabeth gedoop was. Die oorleweringe het dit dat sy, nadat die Xhosas haar gevind het, herhaaldelik die naam Bessie genoem het en na haarself gewys het. Sy het later ook een van haar dogters Bessie genoem. Teen die tyd dat mense begin navors het oor haar, het haar een kleinseun nog gelewe en hierdie is een van die stories wat hy oor haar vertel het, so mens kan met redelike sekerheid aanneem dat die oorlewering waar is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s