Welkome Straf

Herriemerrie publiseer ‘n pos oor mense wat in ander mense se kaste krap en dadelik moet ek erken, ek is skuldig!  Ek krap natuurlik nie in ander mense se koskaste, klerekaste, badkamerkaste en sulke kaste nie, maar ‘n boekekas, hom kan ek nie verbyloop nie.  Boeke is vir my wat ‘n magneet vir ‘n koppiespeld is.  Onweerstaanbaar.  Ek kan myself nie ‘n lewe sonder boeke indink nie.

Gaan jy maar fliek, of dans, of dobbel of watookal, ek gaan biblioteek toe.  Gaan kuier jy maar in die klerewinkel, juwelier, of waarookal, ek wag sommer hier in die boekwinkel… veral as dit ‘n tweedehandse boekwinkel is.  Nuwe boeke is lekker, maar ‘n ou boek, ai!, hy voel so lekker en hy ruik so lekker en hy lees so lekker.

Ek kan ook nie ‘n boek weggooi nie, nie eers ‘n tydskrif nie. Ek het al probeer, maar elke keer gaan grawe ek hom maar weer uit.  Ek gee hulle dan maar liewers weg, want opgaarplek het ek ook nie.

Hierdie romanse met papier en ink het baie, baie jare gelede begin.  Ronaldsvlei Laerskool.  Op die vlakte so 6 kilometer buite Kimberley, net duskant die sandsloot en die treinspoor Kaap toe.  Daar waar Anna, Anna geword het en haar passie vir boeke gebore is.  Binne in ‘n ou, bruin kas in die groot kinders se klaskamer.  Volgens mnr Van Niekerk (beter bekend as Ou Topics) nie ‘n boekekas nie, maar wel ‘n biblioteek.

Daar was twee onderwysers.  Ou Topics, die skoolhoof, en eers mev Visser en toe mev Van Aarde.  Terwyl die mevrou die Sub A’s en B’s en Std 1’s leer lees en skryf en somme doen het, het mnr Van Niekerk die groot kinders (standards 2 tot 5) besig gehou.

Danksy haar nuuskierigheid was Anna so teen die helfte van Std 1 deur die werk wat vir haar standerd voorgeskryf was en moes mev Van Aarde plan maak om haar besig te hou anders was sy stout en het sy die ander kinders gesteur.  Die straf oplossing was dat sy elke dag vir ‘n uur of so in die groot kinders se klas moes gaan sit en “stillees”.

Nou in daardie dae (en ek vermoed vandag nog), was “stillees” ‘n straf vir meeste kinders, maar nie vir Anna nie.  In stillees, of dan boeke, het daardie agtjarige haarself bevind op reise deur die wêreld, die geskiedenis en ander mense se lewens.  Boeke het haar vriende geword en nooit sou sy weer alleen of verveeld wees nie.

Vandag steeds, is boeke haar beste vriende.  Selfs die Internet, met al sy kennis en vermaak met die klik van ‘n knoppie, het nie, en kan nie, die blaai van ‘n bladsy vervang nie.

7 responses to “Welkome Straf

  1. Dit is die een liefde wat al van kleins af in my gekweek is, wat ek verskriklik ongelooflik dankbaar voor is. Lees, lees, lees… en ongelukkig vir die tjinners in die familie… bestaan enige geskenk van my af altyd uit ten minste een boek ook.

    • Ek het ‘n boks vol kinderboeke wat net wag om gelees te word. My kinders is aldrie lief vir lees en ek beplan dat my kleinkinders ook gaan wees. Die oudste een is bietjie ver so Ouma kan maar net hoop haar ma moedig haar aan, maar Knapie het klaar sy eerste boek gekry. Dit was ook sy pa se eerste boek… van lap gemaak sodat dit gewas kan word wanneer dit vuil gelees is. :mrgreen:

  2. Ek sien baie van ons deel ‘n voorliede vir lees en boeke!

    My gunstekling plek op varsity was die biblioteek… As jy instap ruik jy die boeke. Ek het my graad behaal in uitgewerswese, juis ek gedink het dit sal edel wees om die nasie van boeke te versien. Realiteit is dat die kuber ruim die gedrukte media begin stof in die ogies skop.

    • Ek is so bly iemand anders kan ook papier en ink ruik. Ek gee nie regtig om of hulle boeke of skerms lees nie, solank hulle net lees.

  3. Dit is voorwaar ‘n welkome straf.

    My ma was eendag toe ek so 8 jaar oud was gatvol vir my gewees. Sy stop my toe Fiela se Kind in die hand en hoop toe seker maar dat ek sal verdwyn. Ek het mooi die boek gevat en gaan lees.

    Nou weet almal hoekom is ek ‘n Dalene fan.

    • Dit was hoeka Pieternella van die Kaap wat gemaak het dat ek oor daardie tyd begin oplees het. Ek wou weet waar kom sy en die mense van wie sy praat vandaan.

  4. Ek hou self baie van lees (dankie Ouma). My gunsteling is tweedehandse boekwinkels en dan natuurlik Exclusive Books. Ek kan ure daar spandeer en dit dryf R natuurlik teen die mure op – die man lees nie😯

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s