Edelman teen Khoi

Die Ottomanryk (of Turkse Ryk soos dit ook bekend is) het tot stand gekom aan die einde van die 13de eeu en die Europeërs het gesien dat hulle dalk hulle handelsroete met die Ooste gaan verloor, wat dan ook later gebeur het.  Dit het hulle aangemoedig om ‘n seeroete na die Ooste te soek.

So het Dias dan die eerste Europeër geword wat om die Kaap gevaar het en Da Gama was die eerste Europeër wat die seeroete Ooste toe voltooi het.  Die roete was nou gevind, maar ander struikelblokke moes steeds oorkom word.  So ‘n skeepsvaart om die Suidpunt van Afrika kon tot so lank as ‘n jaar duur.  Die spyskaart op een van die skepies van daardie dae, was maar skraps en drinkbare water was skaars en dit het gewoonlik tot gevolg gehad dat die bemanning ernstig siek geword het en selfs gesterf het aan skeerbuik.  Dit het al reeds met Da Gama gebeur op sy terugvaart nadat hy die eerste keer Indië bereik het.  Soveel van sy matrose het gesterf dat hulle een van die skepe, die Sao Rafel, moes aan die brand steek en laat sink.

‘n Oplossing moes gevind word en die ooglopende antwoord het gelê in die baai aan die voet van die platberg waar daar volop water was.  Vleis, melk en ander produkte kon maklik met ruilhandel bekom word en boonop was dit net mooi halfpad Ooste toe of terug.  Die Portugese was die eerste nasie wat die waarde van Die Kaap van Storms besef het, maar hulle het sommer gou agtergekom dat dit nie net die storms op see was wat gevaarlik was nie, daar was ook gevaar aan wal.  Hulle gebruik van Die Kaap van Storms was kortstondig en het geweldadig geëindig.

In Maart 1510 (so 142 jaar voor Oom Jan), stap vriend Dom Francisco de Almeida, edelman, veroweraar en persoonlike vriend van die Portugese koning, saam met ‘n hele paar ander Portugese hoëlui aan wal in die Kaap.  Hulle kom neem vars water aanboord op hulle terugtog vanaf die Ooste.  Die bleek, swart bebaarde Portugese is uitgevat in sy en satyn (okay, miskien nie satyn nie, maar julle sien die prentjie) met skitterende juwele aan hul hande en in hul klere, met swaarde wat blink in die son.

So ‘n entjie weg staan ‘n groep Khoikhoi hulle met belangstelling en dophou.  Teen hierdie tyd is hulle al gewoond aan skepe wat daar kom water laai en boonop dryf hulle al lank handel met die mense uit die see.  Hulle tenger, koffiekleurige liggame besmeer met dierevet teen die insekbyte, en bedek met dierekarosse.  ‘n Groter teenstelling sou jy ver moes gaan soek.  Die enigste ooreenkoms was seker net die liggaamsreuke van die Portugese na maande op die see en die Khoi se dierevet smeersels.

Nou om ‘n lang storie nie langer te maak nie, gaan ek net vinnig vertel dat die arrogante Portugese (onthou, hulle was darem edelmanne) een van die veel kleiner en swakker (en in die edelmanne se oë seker minderwaardige) Khoi in ‘n rigting probeer dwing het waar hy nie wou gaan nie.  Natuurlik het die ander Khoi hul makker te hulp gesnel en die klomp Portugese moes bloedneus die aftog blaas terug skip toe.

Die Dom de Almeida (ek vind die “Dom” nogal ironies) en sy gelelskap was natuurlik nie gelukkig met hierdie vernedering nie en het besluit om die klomp barbare Khoikhoi ‘n les te gaan leer.  Gewapen met net swaarde en spiese (hulle het duidelik gedink dat die Khoi nie buskruit en lood waardig is nie) het 150 van die hulle, met Dom de Almeida vooraan, die Khoikhoi aangeval .  Die geveg het nie heeltemal so glad verloop soos die Portugese verwag het nie en toe hulle sien hulle is besig om die onderspit te delf, gryp hulle ‘n klompie kinders, maar in plaas van om geïntimideer te word deur hul kinders in die hande van die vyand te sien, het dit net die teenoorgestelde uitwerking gehad.

Die Khoi, op die rûe van osse en gewapen met skerp stokke en klippe, het vreesloos die Portugese aangeval en teruggedryf tot op die strand.  Die gewonde Portugese is deur die hoewe van die osse vertrap en daar was geen ontvlugting nie, want die bote wat hulle moes terugvat skip toe, was reeds terug by die skip.  De Almeida self het met ‘n skerpgemaakte stok deur sy keel gesterf.  Die Khoi het hom gestroop van sy deftige klere en juwele en sy lyk kaal op die strand gelos.  Saam met hom het nog 56 matrose en soldate (waarvan 12 edelmanne afkomstig van die edelste Portugese families was) omgekom.

Geen wonder dat die Portugese daarna maar liewer by Aguada de Sao Bras (Mosselbaai) aangedoen het om voorrade aan boord te neem nie.

6 responses to “Edelman teen Khoi

  1. En so kom hoogmoed tot n val.

  2. WOW Anna, ek like die stories van jou! Nooit eers hiervan te hore gekom nie. Yip, die kinders van Afrika issie sissies nie.

    • Stel jou hulle skok voor toe daar nie bote op die strand vir hulle wag nie. Die gebruik van “strydosse” was nogal vir my ‘n verassing… ek dag altyd hulle gebruik beeste net vir kos en lobola:mrgreen:

  3. Anna

    Hiermee teken ek formeel beswaar aan oor jou blog se beskrywing: “Niks van belang nie, maar kom in en kuier saam.”

    Enige iets wat interessant is om te lees IS van BELANG

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s