Onthou vs Vasklou

Saterdag het mense die wêreld oor die aanval op die World Trade Centre en die Pentagon in New York en Washington herdenk.  Natuurlik het ek ook my stuiwer in die armbeurs gegooi met ‘n “I remember….” griffel op my Engelse blog, spesiaal vir my Amerikaanse vriende.

Die skryf van daardie pos het egter my gedagtes op loop gesit langs ‘n heeltemal ander paadjie en ek het die res van die naweek loop en tob hieroor.  Dit is so dat die hede die somtotaal is van dit wat in die verlede gebeur het en dus is dit belangrik om te onthou, maar moet ons onthou of moet ons vasklou?

In Amerika wou ‘n Christen prediker die Koran verbrand en iewers in Johannesburg wou ‘n Moslem die Bybel verbrand.  Wat sou dit tog aan die situasie verander het?  Ek sidder om te dink wat dit weer sou ontketen het.  Dit sou net weer ‘n geval van “hate begets hate” wees en dit het nog nooit enigiemand gebaat nie.

So ‘n klompie jare gelede, het iemand my erg seergemaak en teleurgestel.  Ontnugtering, hartseer, woede, afsku…. noem dit en ek het dit ervaar, het gedreig om my te kelder.  Gelukkig het ek ‘n baie wyse vriendin in my lewe gehad.  Sy het my laat insien dat ek besig was om myself veel meer skade aan te doen as wat die oorspronklike daad ooit kon doen.  Ek moes leer om hierdie gebeurtenis agter te laat en voort te gaan met my lewe.  Vandag lewe ek ‘n vol en gelukkige lewe omdat ‘n vriendin my ‘n paar spesifieke lesse oor vergewensgesindheid geleer het toe my lewe besig was om deur ‘n “black hole” ingesuig te word.

Is dit nie dalk wat verkeerd loop op ‘n veel groter skaal as my eie klein lewetjie nie?

Daar is vandag nog Jode wat almal en alles wat Duits is haat oor dit wat meer as ‘n halfeeu gelede gebeur het.  Amerikaners wantrou al wat Moslem is al was die breë Moslembevolking net so geskok deur die gebeure van 9 September 2001 en het daar verseker ‘n paar Moslem Amerikaners ook omgekom.  Sommige Afrikaners wantrou en haat steeds die Engelse oor onregte uit ‘n oorlog wat gebeur het voordat meeste van ons nog gebore was.  Wit wantrou swart en swart wantrou wit en dit oor dinge uit die geskiedenis waarvan ons nie eens al die feite ken nie.  So kan ek seker aangaan en aangaan.

Is dit nie dalk tyd dat ons doen wat Oom Paul ons aangesê het om te doen nie.  “Neem die goeie uit die verlede en bou die toekoms daarop”.  Los die slegte waar dit hoort, in die verlede, en leef vir die toekoms.  Kan ons nie maar ophou om die verlede soos ‘n groot klip wat alles voor hom platvee, agter ons aan die toekoms in te sleep nie.  Dit wat gebeur het, het gebeur en ons kan niks daaraan verander nie, maar ons kan mos self bepaal hoe ons die toekoms wil ingaan.

Ons moet onthou ja, maar vasklou, nee!

4 responses to “Onthou vs Vasklou

  1. JA, dis waar hierdie. Die lewe gaan verby jou terwyl jy so swaar aan die verlede saamdra.

  2. As ons dit net al in ons eie lewetjies kan regkry, is die stryd al so ver gewen! Ons kan tog so die goed in laaitjies bêre en vertroetel. Intussen dra ons ons dood aan als wat ander ons aangedoen het dat ons skoon vergeet om self te lewe! Kom ons gaan trek ‘n slag daardie laaitjies oop, en gooi al die gemors wat daar opgegaar is weg! En ons GENIET die lewe. VOLUIT! Dankie, dit is ‘n UITSTEKENDE onderwerp wat jy hier het.

  3. Jy is reg Anna, dit karring en karring en voor jy weet is dit bloed en derms en dis altyd die ander ou se skuld. Later weet niemand eers meer waaroor dit gegaan het nie, maar ek haat jou want jy haat my of jou oupa het my oupa gehaat. Intussen vloei die bloed van onskuldiges.
    “Make love, not war” was nog altyd `n goeie roep!

  4. Is waar wat jy se, maar die Jode is sistematies uitgeroei en gejag oor ‘n tydperk van byna 6 jaar, dit was nie een enkele event soos 9/11 nie. Die Joodse menseslagting staan vir my uit, veral omdat ekself al by van die kampe vas asook van die museums regoor die wereld. Die Duitsers het ‘n bepaalde beleid gehad om die mense uit te wis, letterlik van die aardbol af. Hoewel 9/11 erg was is dit nie vir my dieselfde nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s