Tandarts? Help!!!

Die baie senuweeagtige dame sê, terwyl sy haarself probeer  gemaklik maak in die tandardts se stoel:  “Oh Doctor, I am so scared.  Sometimes I think I’d rather have a baby than a filling”.  Die tandarts kyk haar fronsend aan en antwoord baie ernstig:  “Please make up your mind Madam, I have to adjust the chair”.

‘n Vriendin moes gistermiddag die tandarts besoek en ek kon nie glo hoe senuweeagtig sy die hele oggend was nie en dit het my aan die dink gesit.  Ek verstaan heeltemal die gevoel van benoudheid voor so ‘n besoek, maar ek weet darem nie of ek eerder die kraamkamer as die tandarts wil besoek nie.  Tog is daar vele mense wat werklik ‘n besoek aan die tandarts vrees.  (Nou wonder ek mos of daar ‘n –fobie naam vir dit is en wat dit sou wees).

Goed onthou ek hoe die reuk van die tandarts se spreekkamer altyd dadelik my tandpyn genees het.  Ek onthou hoe die klank van sy boor soos growwe skuurpapier oor my senuweepunte geskuur het.  Die vasgryp aan die stoel se armleuning wanneer die naald per ongeluk raakgesien word en dan daardie trane wat sommer vanself uit die oog loop wanneer die punt van die naald die teiken tref.  Dit was my ondervinding van die tandarts toe ek ‘n kind was.  Nou is ek mooi groot en het heelwat meer moed.  (Ek vind dit net nog steeds onmoontlik om hom in verstaanbare taal te antwoord  terwyl hy in my kiestande rondgrawe.)

Tog weet ek dat daar duisende mense is wat selfs wanneer hulle volwasse is, steeds ‘n besoek aan die tandarts soos die dood self vermy.  Nou kan ons vra, waar kom die vrees vandaan.  Ek weet dat my eie vrees as kind begin het met my twee dierbare (meer dier as baar) broers wat vir my vertel het dat die tandarts warm lood in my tand gaan gooi, maar ek glo nie almal het sulke wrede gebroertes nie.

Ek glo nogal die vrees vir die tandarts ontstaan in die kinderjare en groei dan met die tyd.  Jong kinders hoor hoe ouer mense grustories oor hul ondervinding by die tandarts (en let’s face it, daar word gewoonlik stertjies bygelas om dit meer skrikwekkend te maak) vertel en glo sommer dat sulke goed ook met hulle gaan gebeur.  Dit gebeur ook dat ouers hul kinders eers vir die eerste keer tandarts toe neem wanneer daar gespuit, geboor of getrek moet word.  Natuurlik vereenselwig die kind dan die tandarts vir ewig met daardie ongerief of pyn.

Ai ouers, spandeer tog maar daardie paar rande en neem jou kind tandarts toe voordat daar so drasties opgetree moet word.  Maak hulle gewoond aan daardie stoel sodat hulle ontspanne sal wees wanneer hulle vir die eerste keer moet kennis maak met die meer wrede ernstige sy van die tandarts.  Dis natuurlik ook ‘n feit dat sulke drastiese optrede heel moontlik heeltemal vermy kan word indien hulle gereeld die tandarts besoek.

My kinders was gelukkig om Oom Kritz vir ‘n tandarts te hê.  Wonderlike man!  Hy was tandarts, maar het ook ‘n saagmeule hier op Naboomspruit bestuur.  So tussen pasiënte deur het hy sommer gou-gou by die meule gaan inloer en dan het hy met kortbtoek en houtsaagsels in sy hare opgedaag vir die afspraak.  Hy het die grootste hande gehad wat ek ooit aan ‘n man gesien het, maar daardie hande het presies geweet hoe om die fynste werkies in die kleinste monde te doen.  Nuwelinge was altyd geskok oor sy voorkoms, maar net totdat hulle vir die eerste keer deur hom behandel is.  Hy het sy spuitstof verwarm en dan die teenoorgestelde wang geknyp wanneer hy spuit.  Gewoonlik het die kind nie eens besef daar word ‘n naald in sy tandvleis ingedruk nie.  Ek wens elke kind met ‘n tand in sy mond, ‘n tandarts soos Oom Kritz toe.

Tyd om af te klim van die seepkis af.  Nou is dit julle beurt om te vertel hoe julle oor Oom Tandarts voel… of as julle wil, een of ander van die gru- of lag-stories wat julle al oorgekom het in die tandarts se stoel.

8 responses to “Tandarts? Help!!!

  1. Ek weetie. ek is seker maar gelukkig, want ek was nog nooit bang vir tandartse, dokters of naalde nie. Ek glo dis mind over matter, hoe meer jy daaraan dink – hoe erger maak jy dit vir jouself. My gedagte oor enigeits is altyd – Soveel voor my is al lewendig daardeur, en daar is geen rede hoekom ek dit nie ook sal oorleef nie.

  2. Dr van Wyk van Piet Retief was briljant. Ek was ook nie bang vir tandartse gewees nie. Hy was van kleinsaf my tandarts gewees. Hy het ook altyd geweet wat gebeur met sy kliente buite die spreek kamer. As jy byvoorbeeld ‘n prys gekry het vir perdry en hy sien jou maande later, het hy altyd onthou om jou geluk te wens.

  3. Anna, ek is net so bang vir ‘n tandarts. Daai naalde en geluide laat my in koue sweet uitslaan.

  4. Ek laat werk liewers aan elke tand in my mond as om te kraam🙂
    Snaaks dat party mense so bang is vir tandartse, dis draaglik vir my. Ek is ook nie bang vir naalde nie, dis dan so gou verby.
    daar is ander mediese prosedures wat baie, baie, baie erger is

  5. Wie kan in my plek tanarts toe gaan?

  6. Hi ek wil gou weet van watse ouderdom van kan jy jou kind tandarts toe vat,wil haar graag gewoond maak daar aan.
    Dankie mareli

  7. Ek het ook gedink dit sal baie seer wees ,maar nee dit was nagals nie seer nie. ja so bietjie maar na 2dae is al die pyn en leiding weg

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s