WAT? 3 JANUARIE 2011!

Ek hoop dat elkeen van julle ‘n baie geseënde Kersfees sal hê…

Ekskuus, wat sê julle?

Wat?

Kersfees is verby?

 Wanneer het dit gebeur?

Okay, okay, okay dan!

Ek hoop elkeen van julle gaan ‘n verwoede goeie Nuwejaarsfees hou en dat die goedheid julle regdeur 2011 sal vergesel!

WAT!!!  Is dit ook verby?  Nou waar is ons dan nou?

Die derde Januarie 2011!  Oh my soul!  Dan trek ons nou al by my huweliksherdenking.  Vyf en dertig jaar vandag! 

Dit is regtig hoe ek tans my lewe ervaar.  Ons het so ‘n heerlike rustige Kersfees en Nuwe Jaar beplan, maar soos die ou spreekwoord sê:  “Die mens wik, maak God beskik”.

Vrydagoggend, ou Kersdag, met karavaantjie klaar gepak en reg om te ry vir ‘n lang kamp op die plaas, spring ons ses-uur uit die vere en dit is toe net daar waar dinge begin skeef loop.  Die Matroos kom spierwit-bleek en uitasem uit die stort en “collapse” terug op die bed.  Hy voel absoluut uitgeput en lam en ons besluit ‘n vinnige nood-besoek aan die dokter is die aangewese ding om te doen.  Daar gekom vind ons uit sy hartklop is ‘n baie oneweredige 138 hartkloppe per minuut en daar is geen indikasie waarom nie.  Nuwe medikasie en baie rus word voorgeskryf en ons besef, kamp vir Kersfees is uit.

Teen Saterdagmiddag is sy hartklop weer normaal, maar o wee, die enkels begin swel en rooi word.  Teen Sondagoggend is die regteronderbeen so geswel dat krakies in die vel verskyn wat vog dreineer en ons is terug dokter toe.  (Onthou, ons is nie mense wat juis die dokter se drumpel deurtrap nie, so twee besoeke in een week is klaar half traumaties).  ‘n Erge infeksie word gediagnoseer en hy word op ‘n hoë dosis antibiotika geplaas.  Na 48 uur moet ons terug dokter toe. 

Dinsdagoggend kyk die dokter net een keer na die been en besluit dat hy baie gou opgeneem moet word in die hospitaal sodat hy antibiotika binne-aars toegedien kan word.  Gelukkig is Ousus hier en ons neem hom deur Pretoria toe vir opname.  (Die ondervindinge met die kwaliteit van diens sal ons eerder nie hier bespreek nie, maar laat ek maar net noem dat teen die tyd dat hy in ‘n saal in ‘n bed was, my bloeddruk soortgelyk was aan die banddruk van ‘n “18-wheeler”.)

Reeds teen Woensdag was daar merkbare verbetering en teen Vrydag het dit so goed gegaan dat die dokter hom huistoe laat kom het vir die naweek (op parool uitgelaat volgens die kinders).  Ons was baie bly dat hy die naweek saam met ons kon kuier, maar glo my, daar was nie veel tyd vir kuier vir my met ‘n Matroos wat amper soos ‘n baba versorg moes word, plus ‘n kleindogter wat ons net twee of drie keer ‘n jaar sien en baie aandag soek, plus al die kinders (lees hordes) en goeie vriende vir die naweek nie.

Nou is dit gelukkig Maandagoggend en almal is huistoe en terug hospitaal toe en uiteindelik kan ek vir almal in Blogland groet en ‘n baie goeie 2011 toewens.  My wens vir julle is dat al jul drome sal waar word en al jul gebede beantwoord sal word. 

(PS:  Ek sal anderdag vertel van die “geyser” wat gegroet het en die by wat my in my keel gesteek het.  Dit was sommer net kleinighede wat bygekom het, soos dat Johanna moes trek oor dieselfde tyd.  Wonderlik waartoe die menslike vlees en gees in staat is wanneer jy dit in ‘n blik druk.)

19 responses to “WAT? 3 JANUARIE 2011!

  1. Sjoe, Anna!
    Nou maar veels geluk met die 35 jaar se saam klippe kap en sout verteer. Daarsonder sou die lewe darem uiters verveeld wees.

    Groetnis uit die vlak

  2. Ai Anna! My ma het altyd gesê die dinge kom nie een-een nie maar in sarsies. Dit lyk my kompleet of joune in ‘n sarsie gekom het! Maar ek hoop dat dit nou die einde van die sarsie is en dat die res van die jaar fantasties sal wees! Jy weet mos by Wie jy moet aanklop vir hulp!! Baie sterkte. Hou ons op hoogte, dan kan ons vir jou bid.

  3. Sjoe Ann’tjie!! 😯 wat kan ek sê wat nie leeg of soos ‘n spul klinkende simbale gaan klink nie…
    Bid, dié sal ek – mag Hy wat jou kén, jou gedurigdeur herinner aan Sy teenwoordigheid en jou op Sy Hande dra. Elke dag.

    • Dankie BB, Alle eer aan Hom, want hy dra ons nog die hele pad deur. Ek wonder opnuut wat mense wie Hom nie ken nie, in krisistye doen.

  4. O aarde, julle sal verseker nie Kersfees 2010 gou vergeet nie! Hoop alles is gou-gou weer volkome normaal.

    • Dankie Twilight. Dit gaan al klaar baie beter en ek glo teen volgende week is ons terug by normaal.

  5. Sjoe hoop dit gaan sommer gou beter

  6. Verwoede 2011 aan julle ook. dalk met n bietjie minder opwinding en meer gesondheid. Dit is waar, wanneer dinge skeef loop, doen hulle dit behoorlik.

  7. Hoop dis vandag die 5de by jou 😉 en dat dit baie beter gaan!

  8. Sjoe! Synde dat ek al die ander gemis het, byvoorbaat ‘n geseënde paasfees en geluk met jou verjaarsdag!
    Liefde, gersondheid, voorspoed en geluk vir julle in 2011.

  9. Genadetjie! Wel as 2010 so afgesluit het – is ek seker gaan 2011 sommer voor die wind gaan.

  10. Sjoe, dit was by ons ook rof, maar nie naastenby soos by julle nie.

    Hoop dit gaan nou al beter!

  11. Ek weet nie of jy dit besef nie, maar dit is al die 13de.

    • Dankie dat jy my herinner het DMI. Dinge is ongelukkig nog nie terug na normaal nie, maar die volgende episode van “As the stomach turns” (onheilspellende musiek in die agtergrond) sal in ‘n latere pos vertel word.

  12. Anna – ons mis jou. Sterkte aan daardie kant en onthou – ons is hier 🙂

  13. Terug pieng: Vra is vry « Cantus!

Lewer kommentaar op Son Kanselleer antwoord