Category Archives: Uncategorized

TOTSIENS… vir eers!

Dankie vir die tags, maar ek gaan nie saamspeel nie, nie hierdie keer nie.  Ek gaan vir eers die bloggery laat skuins lê, maar ek sal steeds by julle almal lees en kommentaar lewer.  Julle blogs is in elk geval baie interessanter as myne.  Wanneer ek weer sal begin blog, sal die tyd wel leer, maar nou gaan ek eers net probeer om by te bly met die veranderinge in my lewe… hopelik goeie veranderinge… en ek  belowe, wanneer iets drasties verander, sal ek laat weet.  Groetnis vir eers, Anna.

WAT? 3 JANUARIE 2011!

Ek hoop dat elkeen van julle ‘n baie geseënde Kersfees sal hê…

Ekskuus, wat sê julle?

Wat?

Kersfees is verby?

 Wanneer het dit gebeur?

Okay, okay, okay dan!

Ek hoop elkeen van julle gaan ‘n verwoede goeie Nuwejaarsfees hou en dat die goedheid julle regdeur 2011 sal vergesel!

WAT!!!  Is dit ook verby?  Nou waar is ons dan nou?

Die derde Januarie 2011!  Oh my soul!  Dan trek ons nou al by my huweliksherdenking.  Vyf en dertig jaar vandag! 

Dit is regtig hoe ek tans my lewe ervaar.  Ons het so ‘n heerlike rustige Kersfees en Nuwe Jaar beplan, maar soos die ou spreekwoord sê:  “Die mens wik, maak God beskik”.

Vrydagoggend, ou Kersdag, met karavaantjie klaar gepak en reg om te ry vir ‘n lang kamp op die plaas, spring ons ses-uur uit die vere en dit is toe net daar waar dinge begin skeef loop.  Die Matroos kom spierwit-bleek en uitasem uit die stort en “collapse” terug op die bed.  Hy voel absoluut uitgeput en lam en ons besluit ‘n vinnige nood-besoek aan die dokter is die aangewese ding om te doen.  Daar gekom vind ons uit sy hartklop is ‘n baie oneweredige 138 hartkloppe per minuut en daar is geen indikasie waarom nie.  Nuwe medikasie en baie rus word voorgeskryf en ons besef, kamp vir Kersfees is uit.

Teen Saterdagmiddag is sy hartklop weer normaal, maar o wee, die enkels begin swel en rooi word.  Teen Sondagoggend is die regteronderbeen so geswel dat krakies in die vel verskyn wat vog dreineer en ons is terug dokter toe.  (Onthou, ons is nie mense wat juis die dokter se drumpel deurtrap nie, so twee besoeke in een week is klaar half traumaties).  ‘n Erge infeksie word gediagnoseer en hy word op ‘n hoë dosis antibiotika geplaas.  Na 48 uur moet ons terug dokter toe. 

Dinsdagoggend kyk die dokter net een keer na die been en besluit dat hy baie gou opgeneem moet word in die hospitaal sodat hy antibiotika binne-aars toegedien kan word.  Gelukkig is Ousus hier en ons neem hom deur Pretoria toe vir opname.  (Die ondervindinge met die kwaliteit van diens sal ons eerder nie hier bespreek nie, maar laat ek maar net noem dat teen die tyd dat hy in ‘n saal in ‘n bed was, my bloeddruk soortgelyk was aan die banddruk van ‘n “18-wheeler”.)

Reeds teen Woensdag was daar merkbare verbetering en teen Vrydag het dit so goed gegaan dat die dokter hom huistoe laat kom het vir die naweek (op parool uitgelaat volgens die kinders).  Ons was baie bly dat hy die naweek saam met ons kon kuier, maar glo my, daar was nie veel tyd vir kuier vir my met ‘n Matroos wat amper soos ‘n baba versorg moes word, plus ‘n kleindogter wat ons net twee of drie keer ‘n jaar sien en baie aandag soek, plus al die kinders (lees hordes) en goeie vriende vir die naweek nie.

Nou is dit gelukkig Maandagoggend en almal is huistoe en terug hospitaal toe en uiteindelik kan ek vir almal in Blogland groet en ‘n baie goeie 2011 toewens.  My wens vir julle is dat al jul drome sal waar word en al jul gebede beantwoord sal word. 

(PS:  Ek sal anderdag vertel van die “geyser” wat gegroet het en die by wat my in my keel gesteek het.  Dit was sommer net kleinighede wat bygekom het, soos dat Johanna moes trek oor dieselfde tyd.  Wonderlik waartoe die menslike vlees en gees in staat is wanneer jy dit in ‘n blik druk.)

Sterf aan Depressie

Vandag word ‘n baie goeie vriend se broer begrawe.  Die skok en hartseer vir daardie familie vandag, is iets wat geen mens toekom nie.  Behalwe vir die verlies van ‘n man, seun en broer, moet hulle ook die skok verwerk van ‘n persoon wat aan depressie gesterf het, of soos ons dit noem, selfmoord.  Die “waaroms” en “het ek maars” is eindeloos.  Maak nie saak hoeveel keer daar vir hulle gesê word dat daar nie blaam by hulle lê nie, sal hulle vir nog ‘n lang tyd hulself verwyt vir iets wat hulle nie kon keer nie.

Ons word grootgemaak met die idee dat selfmoord die een sonde is wat nie vergewe kan of sal word nie.  Altans, dit is hoe ek grootgeword het.  Eers baie jare later, toe ‘n goeie vriendin se jong seun himself in hul motorhuis vergas het, het ‘n Anglikaanse priester by sy begrafnis gepreek oor “die dood van ‘n depressielyer”.  Hierdie preek het my wyer laat dink en uiteindelik het ek besef dat ons selfmoord uit die verkeerde oogpunt benader.

Depressie is gewoonlik die aanloop tot selfmoord.  Ek kan regtig nie aan enige ander oorsaak dink nie.  Ja, daar is seker vele ander simtome, maar ek glo dat elk van hierdie simtome spruit uit depressie.  Depressie op sigself is iets wat nie baie mense werklik verstaan nie.  Die algemene prentjie van ‘n depressielyer is van ‘n persoon wat heeldag met ‘n lang gesig rondloop en sug of treur, of watookal.  Dit is nie waar nie.  Daar is ernstige depressie-gevalle waar self hul eie huismense nie agterkom dat daar fout is nie.

Depressie kan so geleidelik homself in iemand se lewe kom inwurm en vestig dat niemand sal agterkom wat aangaan nie.  Na ‘n klompie maande, of selfs jare sal iemand dalk opmerk dat Piet of Anna baie stil geword het, maar dit maar net aanvaar as ‘n teken van groei of grootword, of ouderdom.  Tog is daardie persoon stilletjies aan die sterf, sonder dat hy of sy self verstaan wat aangaan.  Teen die tyd dat daar opgemerk word dat daar ernstige fout is, is dit gewoonlik te laat.

Sou iemand vir ure in die son lê en “tan”, velkanker kry en uiteindelik daardeur omkom, sou niemand dink dat sy dood ‘n sonde is nie.

Sou iemand HIV besmet word en later aan VIGS sterf, sou niemand dink dat sy dood sonde is nie.

Sou iemand homself oor jare vergryp aan sulke lekker vet steaks en biltonge en skieling aan ‘n hartaanval sterf, sou niemand dink sy dood is ‘n sonde nie.

Sou iemand 30 sigarette ‘n dag vir 30 jaar lank rook en aan longkanker sterf, sou niemand dink sy dood is ‘n sonde nie.

Sou iemand ‘n gewoonte daarvan maak om te jaag en sy band op 160 km per uur bars en hy kom om in die daaropvolgende ongeluk, sou niemand dink sy dood is sonde nie.

Sou iemand lekker partytjie hou en slinger, slinger op pad huis toe, homself te pletter ry teen ‘n boom, sou niemand dink sy dood is sonde nie… en so kan ek aangaan en aangaan.

Waarom dan, wanneer iemand as gevolg van ernstige siekte (depressie), net nie meer  kans sien om met die lewe aan te gaan, en selfmoord pleeg, sien ons sy dood as sonde?

In elke geval, wie van ons weet regtig hoe hoog, wyd, diep en breed die Genade van God is.  Na alles, is Hy tog die Een wat alles sien, ook die hart en oortuigings van daardie mens wat sy eie lewe neem, en wie weet wat daardie persoon se laaste hulproep dalk was.  Kan ons dan nie ook maar ‘n bietjie meer genadig optree teenoor die nagedagtenis van die persoon wat aan depressie sterf nie?

Ek vra maar net.