Dokters en Werkgewers!

Vandat ek my verstand gekry het, het ek geleer dat om ‘n dokter te wees, ‘n edele beroep is.  ‘n Dokter is ‘n persoon na wie jy opsien.  ‘n Dokter is iemand wat jy met jou lewe vertrou.  ‘n Dokter gee om vir sy medemens.  ‘n Dokter verdien om gerespekteer te word want hy gee om vir, en dien sy medemens.

Nou wonder ek of dit nog steeds die geval is.  Al hoe meer en meer hoor ek van gevalle waar dokters weier om pasiente te sien voordat hulle die rekening betaal het.  Ek hoor van dokters wat pasiente soos maalvleis deur ‘n worsmasjien prosesseer.  Ek hoor van verkeerde diagnose wat gemaak word en verkeerde medikasie wat voorgeskryf word… en ongelukkig hoor ek nie net hiervan nie, ek ervaar dit self.

Op ‘n plattelandse dorpie soos ons s’n, is daar gewoonlik nie ‘n keuse van dokters nie.  Jy sien die plaaslike dokter, of jy sien en kom klaar.  Sou jy ‘n ander dokter wil sien, beteken dit dat jy na die naburige dorpe moet ry om daar ‘n dokter te sien.  ‘n Rit na die naburige dorp, plus die dokter se fooi, plus die medikasie, kan maklik die helfte van ‘n persoon se maandelikse salaris insluk.

Waarom dan nie die provinsiale kliniek of mediese sentrum besoek nie?  Behalwe vir die feit dat die toue lank is, en die base ongeduldig raak as jy lank weg is van die werk af, aanvaar baie van die base ook nie mediese sertifikate van die klinieke nie, want die dokter besoek net een keer per week en die res van die tyd word die sertifikate deur die susters uitgereik.  

Weer terug by die werklikhede van ‘n klein plattelandse dorpie soos ons s’n. Die salarisse is absoluut power en ja, die werkgewers kom weg daarmee, want werk is so skaars dat geen werker dit sal waag om amptelik op te tree nie.  Doen hy dit, sal daar baie gou ‘n rede vir ontslag gevind word en dan is daardie persoon ‘n gemerkte mens en sal verseker nie weer op hierdie dorp werk kry nie.  Selfs met die arbeidswette soos dit is, bly werkers liewers stil en verdien darem ‘n inkomste… heelwat beter as om van familie se gunste afhanklik te wees.  Dus sit ons mense ernstig in die knyp.

Nou terug by die dokters.  Ek is bewus van die koste verbonde aan die bedryf van ‘n mediese spreekkamer.  Ek is bewus van die koste van mediese studies.  Ek het selfs begrip daarvoor dat ‘n dokter ‘n sekere lewensstandaard moet handhaaf, want hy is ‘n gesiene man.  Tog wonder ek of sy lewensstandaard so hoog moet wees dat die gewone mens nie meer sy dienste kan bekostig nie.  Is dit regtig nodig dat hy op so ‘n verhewe vlak beweeg dat hy totaal voeling verloor met die werklikhede van Jan Alleman se lewe? 

As iemand weet, kan hulle my dalk help om hierdie vrae te beantwoord.  Is ‘n dokter nog ‘n dokter, of het hy net ‘n besigheidsman geword?  Waarom dan dokter word en mense laat glo dat hy omgee vir sy medemens?  Waarom dan nie eerder ‘n politikus word nie?… dan sal die mens ten minste versigtiger wees om hom sonder voorbehoud te vertrou.

NS:  Verskoon as hierdie pos bietjie deurmekaar klink, maar ek erken, ek is emosioneel terwyl ek hier tik, want dit het vandag ‘n jong mens van ons dorp, wat R2,500 ‘n maand verdien, ongeveer R1,300 gekos omdat sy gisteraand gegly het en haar enkel seergemaak het.  Een afspraak by die dokter, een rit na die naburige dorp om X-strale te laat neem, een voorskrif by die apteek, en nog ‘n afspraak moremiddag sodat die dokter die X-strale kan vertolk.  Dan is ek ook bereid om my salaris daarop te verwed dat die enkel net verstuit is, maar sy moes die dokter gaan sien, ens, ens, sodat hy ‘n, volgens haar werkgewer, wettige mediese sertifikaat kan uitreik!  Iewers stink iets vreeslik!

15 responses to “Dokters en Werkgewers!

  1. Dit is ‘n beroep soos enige ander. Ongelukkig, soos met alles bv. ook ‘n prokureur, gaan jy maar moet betaal hoe meer gespesialiseerd dit is, en hoe minder jy as leek self weet of kan doen.
    Ek dink dit is ‘n pot kak van die persoon se werkgewer om elke geval so demanding oor die nota ens. te wees.

    • Ek besef dit DMI, maar is dit nodig vir nog ‘n afspraak net om die X-strale te vertolk? 😯 Dan wonder ek of om geneesheer, verpleegster, ens te wees, waar jy met menselewens werk, werklik net nog ‘n beroep is, of moet wees. Moet daar nie ‘n passie vir die “mens” wees om so ‘n beroep te volg nie? Ek weet nie, wonder maar net. Lees bietjie op Huisvrou se blog van ‘n ander dokter in ons omgewing (toevallig ken ek hom ook persoonlik) wat ook maar net ‘n beroep volg… en daar is baie ander wat steeds uiters welvarend en suksesvol is, maar darem nog steeds die mens se omstandighede in die oog hou.

  2. Sy moet haar werkgewer inlig hoe kosbaar die nota is dat hy dit darem kan raam en teen die muur hang om hom te herinner hoe verdomp onredelik hy is.

    • Weer terug by ‘n klein plattelandse dorpie soos ons s’n :wink:, waar almal vir almal ken. Wanneer ek hom weer raakloop of -kuier, sal ek (baie taktvol natuurlik) hom laat weet wat sy paranoia oor werkers wat bedrog pleeg met siekteverlof, hierdie persoon uit die sak gejaag het :lol:.

  3. Dalk is dit nou tyd om kommentaar op my eie skrywe te gee. Dis die volgende dag en ek is nie meer de M in nie. Ek het in die verlede lang tye saam met dokters gewerk en ek moet erken dat 99% van die wat ek leer ken het, werklik toegewyd was en dat hulle soms maar swaar kry onder die werkslas en verantwoordelikhede wat op hulle skouers rus. Eintlik was my “rant” gerig op ‘n spesifieke dokter wat eens op ‘n tyd omgegee het vir sy pasiente, maar mettertyd al hoe meer en meer op die besigheidskant van sy praktyk begin konsentreer het. Die vraag bly egter staan, wat moet mense wat nie mediese fondse kan bekostig nie doen?

  4. Anna, ek’s 100 % met jou op die ene.

    Verlede jaar moes ek R1000 betaal toe my jongste een aand skielik oorpyn gehad het. Ons het nie dokters oop daai tyd van die aand nie, en moes hom noodgedwonge na die plaaslike privaathospitaal se ongevalle vat. die dokter het seker 3 minute by hom spandeer, maar ek moes R600 betaal vir die voorreg om op die hospitaalbedjie te le, en R400 vir die dokter. Medikasie was nog ekstra, maar gelukkig het hulle net die antibiotika in voorraad gehad. Dis ‘n blooming skande dat ‘n nietige oorpyn jou dieselfde gaan kos as iemand wat bv. ‘n hartaanval gehad het.

    Medici en privaathospitale is uit en uit daarop uit om geld te maak uit siekes. Daar is nie meer sprake van ‘edele beroep’ of ‘naastediens’ of ‘roeping’ nie. Dokters is lief om te vertel hoe hoog hul uitgawes is, maar almal bly in die fancieste huis, ry die duurste karre, gaan op oorsese vakansies, het ‘n strandhuis en ‘n plasie in die Bosveld.

    Oor werkgewers wat aandring op ‘n mediese sertifikaat: is daar nie wetgewing wat dit reguleer nie? Ek wonder? Dit voel nie fair dat ‘n werkgewer daarop kan aandring, al het ‘n werknemer nie ‘n mediese fonds nie. Dis dieselfde met skole wat ‘n sertifikaat vereis as ‘n kind x-getal dae uit die skool is. Ek was altyd harregat daaroor. As die skool dit wou he, moes hulle self die dokter betaal. Jy kan niemand dwing om bloed uit ‘n klip te kry nie. Of altans, jy behoort nie te kan nie.

    Ek’s nou sommer ook heeltemal opgerile!

  5. Neem nou maar ‘n eenvoudige verkoue of griep. Met griep gaan jy waarskynlik langer as twee dae sleg voel. Behalwe dat mens jou kollegas net gaan loop aansteek is jy in elk geval ‘n nul op ‘n kontrak. Jy gaan ook gouer beter word as jy gaan lê. Dus is dit in almal se belang as jy by die huis bly tot jy beter voel. Dis ‘n virus wat jou siek maak. Niks op aarde wat die dokter jou kan gee, gaan jou gouer gesond kry of laat beter voel nie. Moet jy nou dokter toe gaan vir ‘n siektesertifikaat? Se alie!

    • Dankie tog! By my eie werksplek mag ek gelukkig 2 dae siek wees by my huis voordat ek ‘n sertifikaat moet inhandig, maar die kleiner werkgewers kan maar lekker vol nonsens wees as dit by so iets kom. Ek wil darem ook net se dat die koste toe darem nie R1, 300 was nie, dit was net so R900 met die ryery ingesluit. Soos hulle se: “Thank God for small mercies”.

  6. Na ek gister R1500 bo-op die jonsultasiefooi moes hoes vir ‘n dokter om ‘n verslag te skryf vir die mediese fonds (wat reeds uitgeput is).
    En die verslag word nie gestuur voor die gelde nie betaal is nie….
    . . . . is vandag nie ‘n goeie dag om my te vra nie. Ek mag moontlik totaal onredelik in my antwoord wees.

    • Haai Plasie, dis lekker om van jou te hoor al is dit kwaai nuus. R1,500 vir ‘n verslag! Word dit op met goud ge-embosseerde papier gedruk of wat?

  7. Middelvinger

    Iets is groot fout! Ek is self ‘n dokter wat onlangs die privaatsektor veruil het vir ‘n pos by die staat. Hoekom? Wan’t as ek iemand wil help wil ek nie eers vir dae aaneen mat al wat ‘helpdesk’ operateur baklei by die mediese fondse nie. Daar is nog van ons wat medisyne as ‘n edele beroep sien.

    • Middelvinger, ek haal my hoed vir jou af, want om in my boekie beteken privaatpraktyk ruil vir die Staat dat jy regtig mense wil help en nie net jouself nie. Ek is bly jy het gereageer want jy sal perspektief kan gooi op wat in die mediese doolhof aangaan deesdae. Lig ons asseblief ‘n bietjie meer in.

  8. Middelvinger

    Anna, ek dink die probleem het vele oorsake. Die voorgraadse opleiding is nie meer wat dit was nie, studente word deur die worsmasjien gedruk om ‘n al groter te kort te vul. Swakker dokters maak dit vir die buiteland makliker om elders mediese personeel te gaan soek.

    Mediese fondse en privaat hospitale maak medisyne duur. Die admin verbonde aan ‘n noodsaaklike prosedure jaag die kostes vir die dokters op- glo dit of nie, maar medisyne is nog reletief goedkoop in Suid-Afrika. In Ierland sal ‘n besoek aan ‘n GP jou 68 euro uit die sak jaag!

  9. ja ek ook as ronell wil n dokter wees

  10. ek wil graag n dokter word wat moet jy doen om by dokter uit tekom?

Lewer kommentaar op Middelvinger Kanselleer antwoord