Sterf aan Depressie

Vandag word ‘n baie goeie vriend se broer begrawe.  Die skok en hartseer vir daardie familie vandag, is iets wat geen mens toekom nie.  Behalwe vir die verlies van ‘n man, seun en broer, moet hulle ook die skok verwerk van ‘n persoon wat aan depressie gesterf het, of soos ons dit noem, selfmoord.  Die “waaroms” en “het ek maars” is eindeloos.  Maak nie saak hoeveel keer daar vir hulle gesê word dat daar nie blaam by hulle lê nie, sal hulle vir nog ‘n lang tyd hulself verwyt vir iets wat hulle nie kon keer nie.

Ons word grootgemaak met die idee dat selfmoord die een sonde is wat nie vergewe kan of sal word nie.  Altans, dit is hoe ek grootgeword het.  Eers baie jare later, toe ‘n goeie vriendin se jong seun himself in hul motorhuis vergas het, het ‘n Anglikaanse priester by sy begrafnis gepreek oor “die dood van ‘n depressielyer”.  Hierdie preek het my wyer laat dink en uiteindelik het ek besef dat ons selfmoord uit die verkeerde oogpunt benader.

Depressie is gewoonlik die aanloop tot selfmoord.  Ek kan regtig nie aan enige ander oorsaak dink nie.  Ja, daar is seker vele ander simtome, maar ek glo dat elk van hierdie simtome spruit uit depressie.  Depressie op sigself is iets wat nie baie mense werklik verstaan nie.  Die algemene prentjie van ‘n depressielyer is van ‘n persoon wat heeldag met ‘n lang gesig rondloop en sug of treur, of watookal.  Dit is nie waar nie.  Daar is ernstige depressie-gevalle waar self hul eie huismense nie agterkom dat daar fout is nie.

Depressie kan so geleidelik homself in iemand se lewe kom inwurm en vestig dat niemand sal agterkom wat aangaan nie.  Na ‘n klompie maande, of selfs jare sal iemand dalk opmerk dat Piet of Anna baie stil geword het, maar dit maar net aanvaar as ‘n teken van groei of grootword, of ouderdom.  Tog is daardie persoon stilletjies aan die sterf, sonder dat hy of sy self verstaan wat aangaan.  Teen die tyd dat daar opgemerk word dat daar ernstige fout is, is dit gewoonlik te laat.

Sou iemand vir ure in die son lê en “tan”, velkanker kry en uiteindelik daardeur omkom, sou niemand dink dat sy dood ‘n sonde is nie.

Sou iemand HIV besmet word en later aan VIGS sterf, sou niemand dink dat sy dood sonde is nie.

Sou iemand homself oor jare vergryp aan sulke lekker vet steaks en biltonge en skieling aan ‘n hartaanval sterf, sou niemand dink sy dood is ‘n sonde nie.

Sou iemand 30 sigarette ‘n dag vir 30 jaar lank rook en aan longkanker sterf, sou niemand dink sy dood is ‘n sonde nie.

Sou iemand ‘n gewoonte daarvan maak om te jaag en sy band op 160 km per uur bars en hy kom om in die daaropvolgende ongeluk, sou niemand dink sy dood is sonde nie.

Sou iemand lekker partytjie hou en slinger, slinger op pad huis toe, homself te pletter ry teen ‘n boom, sou niemand dink sy dood is sonde nie… en so kan ek aangaan en aangaan.

Waarom dan, wanneer iemand as gevolg van ernstige siekte (depressie), net nie meer  kans sien om met die lewe aan te gaan, en selfmoord pleeg, sien ons sy dood as sonde?

In elke geval, wie van ons weet regtig hoe hoog, wyd, diep en breed die Genade van God is.  Na alles, is Hy tog die Een wat alles sien, ook die hart en oortuigings van daardie mens wat sy eie lewe neem, en wie weet wat daardie persoon se laaste hulproep dalk was.  Kan ons dan nie ook maar ‘n bietjie meer genadig optree teenoor die nagedagtenis van die persoon wat aan depressie sterf nie?

Ek vra maar net.

15 responses to “Sterf aan Depressie

  1. So waar, Anna. Ekself moet maar getrou die pilletjie sluk…. Soms wens ek die ding kan totally genees word.

    • Dankie vir jou. Soveel mense is bang om te erken dat hulle gereeld ‘n pilletjie moet sluk. Ek self het vir jare geglo dat dit ‘n swakheid in my karakter is en is selfs vertel dat depressie sonde is want dit beteken ons glo nie in die goedheid van God nie. Dankie tog vir ‘n geduldige dokter wat eendag mooi vir my verduidelik het dat dit ‘n fisiese toestand is. Dit is inderwaardheid ‘n siekte van die tyd waarin ons leef en ek wens meer mense wil dit besef en aanvaar.

  2. Hallo Anna, ek het al voorheen geblog oor selfmoord asook oor depressie. Ek verstaan nie die hoekoms en waaroms nie en miskien sal ek ook nooit nie. Die mense wat agterbly kry ook nooit voldoende antwoorde nie en dìt is vir my die ergste.

    Onbeantwoord.

    Skakerings van Swart – Hoe diep is jou gat?

  3. Ek het amper my seun verloor aan depressie. Gelukkig het iemand hom betyds gekry. Ek sal vir ewig dankbaar wees. Maar mens is nooit weer daarna dieselfde nie. Dis al 7 jaar gelede, sy depressie is onder beheer, maar mens bly altyd bang. Dis soos om met die letsels van ‘n brandwond saam te lewe. Dis altyd daar.

    • “…letsels van ‘n brandwond…” Dit is mooi gestel Son. Ek weer vergelyk dit met “Asma”. Dit is altyd daar. Soms is dit net onder beheer, maar dit kan enige dag weer kop uitsteek.

  4. Girl van die Suburbs

    Wee’ ja Anna – Jy is reg… Ons het geen begrip van God se genade nie en ons weet nie wat in die laaste paar sekondes van daardie persoon se lewe gebeur nie. Dis great as ons besef die oordeel kom ons nie toe nie.

    Depressie is gruwelik. Dit steel ‘n mens se hoop en dan vergeet jy wat jou waarde is en dat die Skepper jou in die palm van Sy hand hou… en HY los jou nooit nie, dis ons wat soms laat gaan.

  5. Dis nie vir een mens om oordeel te vel oor ‘n ander nie. Punt.

  6. Ek glo dat as jy eenmaal die Here as jou verlosser aangeneem het, geen dood, geen siekte, honger, wat ook al jou kan skei van Sy liefde nie. En dat as jy eenmaal sy verlossing en vergifnis ontvang het, jy dit ontvang het, selfs vir goed wat jy dalk gedoen het waarvoor jy nie vergifnis gevra het nie. Ons is dan onder Sy sambreel van genade. En as ‘n persoon ‘n verskriklike siekte het en hy nie meer rasioneel kan dink nie omdat daar ‘n chemiese wanbalans in sy brein is, en as gevolg dan daardie wanbalans doen hy so iets verskrikliks soos om sy eie lewe te neem, dan is hy steeds onder dieselfde genade van ons liefdevolle God!!! Ek is SO jammer vir daardie gesin. ‘n Mens dra dit vir die res van jou lewe saam met jou. Jy is miskien nie heeldag bewus daarvan nie, maar as so iets met iemand anders gebeur, onthou jy maar weer…

  7. Terug pieng: Vir almal in Blogland « Kouevuur

  8. Ek wa sook al daar. Moes ook vir ‘n ruk lank maar elke dag die pilletjie sluk. Gelukkig kon ek dit weer los na ‘n jaar of wat. My ma drink hom elke dag van haar lewe.

    En hierdie laaste twee jaar was ek self amper weer daar.

    Ek glo God ken ons en verstaan ons omstandighede. Ek glo nie vir een oomblik dat depressie ‘n swakheid of selfmoord ‘n sonde is nie!!

  9. Marile Cloete

    Ek stem saam met alles wat jy sê. Kyk gerus (as jy dit nie dalk al gesien het nie) hier vir my gedagtes oor selfmoord. Daar is ook op my blog heelwat oor depressie en oor die kursus wat vir my na omtrent 20 jaar groot verligting (LW. ek is nog te bang om te sê genesing) gebring het.
    http://marilecloete.wordpress.com/2011/01/14/random-gedagtes-wanneer-alles-te-veel-word/#comments

  10. Moet net nooit ooit selfmoord oorweeg en self pleeg nie. Sou jy dit doen, dan gaan dit oor na die volgende persoon naaste aan jou. Maw, jou seun dogter of kleinkind ens. Daar is ‘n band wat dan gebreek moet word en dit kan net deur Sy genade moontlik wees.

    • Baie dankie vir jou kommentaar Annetjie. Ek sal dit nogal waardeer as jy bietjie wil uitbrei en verduidelik waarop jou opmerkings gegrond is. Voel asseblief vry om uit te brei.

  11. Marie-louise williams

    Hi anna ek is nog baie jonk met 3 klein kindertjies, ek is n depressie leier en het n wonderlike man wat my by staan waar hy kan ma dis ok nie altyd maklik nie hy verstaan nie altyd waardeur ek gaan nnie ek probeer manet altyd vasbyt terwile van my gesin. Baie dankie vir almal wat omgee en al die gebede. Groete marie-louise

  12. My ma van 73 het al soveel kere probeer selfmoord pleeg, ons is raadop, meeste verstaan nie dis ‘n siekte nie. Ek wil my ma so graag help, maar weet nie meer hoe nie..

Lewer kommentaar op Girl van die Suburbs Kanselleer antwoord