Kersfees a la Anna

Sover is die aanloop tot Kersfees redelik pynloos vir my. Kersgeskenke is klaar gekoop, behalwe vir twee. Ek weet reeds presies wat ek vir Manlief wil kry, nou is dit net ‘n geval van wegkom sonder hom om dit te gaan haal. Die probleem een is vir QE III, ‘n jong lady wat eintlik alles het wat sy wil hê, en dit wat sy nog nie het nie, kan ek nie bekostig nie… “sug”!

Koskas, koelkas en vrieskas is opgestock en die boom is op en mooi getooi. Selfs die Gautengers speel hierdie jaar saam en gedra hulle… los parkeerplek oop vir ons locals en koop nie die winkels leeg voor ons iets kan kry nie .

Alles is reg en in plek, net wagtend op die grootdag om aan te breek.

Regtig? Alles? Wel nee, Anna is glad nie reg en in plek nie!

Anna wil haar mense hierdie jaar elkeen apart toedraai in mooi krismispapier, mooi strikke ombind en hulle elkeen vir iemand anders stuur tot na Krismis. Sy sal dan, in die afwesigheid van hul geskarrel om aandag en bevrediging, hulle mis en in vrede Krismis hou.

Sy wil nie aan die einde van die dag emosioneel pimpel en pers gekneus wees van probeer om almal gelukkig te hou nie. Sy wil nie geskenke ontvang, of gee, wat iemand in die skuld gaan dompel nie. Sy wil nie geskenke ontvang of gee, wat nie uit die hart kom nie.

Sy wil eerlikheid en opregtheid in Kerfees hê. Anna wil hê dat Kersfees ‘n tyd moet wees om verbrokkelde bande te herstel. ‘n Tyd om te vergewe en vergifnis te ontvang. ‘n Tyd om die verlede die doodskoot toe te dien en te begrawe – 12 voet diep! Eenvoud en eerlikheid moet hoogty vier. Sy wil sommer net lief wees vir haar mense sonder om teenprestasie te verwag.

Sy wil Krismis hê soos dit was toe sy ‘n kind was. Eenvoudig, eerlike en koesterend. Tuisgebakte soetkoekies en jemtertjies afgesluk met gemmerbier wat weke voor die tyd gebak en gemaak was. Vrugte, groente en waatlemoene uit die tuin. Swem in die dam en kuier onder die popelierbome. Familie, vriende en bekendes wat opdaag om die vrede en vreugde van Kersfees uit te deel en te onvang. ‘n Kersfees losgemaak van vertoon en beindruk, waar daar gekonsentreer was op mense en nie op goeters nie. Waar Kersfees beteken het dat die liefde van die Kerskind herontdek en gedeel word.

Miskien droom Anna ‘n onmoontlike droom en miskien onthou sy selektief… dis mos wat die verloop van tyd met ons doen… maar sou so ‘n Kersfees nie wonderlik wees nie?

8 responses to “Kersfees a la Anna

  1. Ai, tog, Anna! Die tyd van blikke vol kleinkoekies en bottels gemmerbier wat agter die eetkamerdeur, in die koeligheid gewag het om gedrink te word.Van kinderlike vreugde oor Kersfees, selfs as volwassenes——- wat het daarvan geword?
    Kan ek en jy en die volgende ou wat hier lees, die briek aandraai, sodat dit kan terugkeer na hoe dit moet wees?
    Of miskien moet elkeen van ons sorg dat opregte Jesus-liefde deurskemer in elke geskenk wat ons gee—– ‘n stukkie van ons hart, selfs net in ‘n koekie lekkerruik badseep.
    Geseënde Kersfees vir jou.En mag jy ‘n pakkie “Vrede” onder jou boom kry.

    • Dit was darem maar lekker! Ek onthou die lekkerruik badseep ook. Vinolia, as ek reg onthou (kry mens dit nog?), so drie koekies in een pakkie. My ma het ‘n spesiale blik gehad waarin die gemmerbier lank voor die tyd gemaak is. Dit was reg wanneer al die rosyne bo-op gedryf het en dan is die rosyne afgeskep voordat dit gebottel is. Een jaar het ek en my maatjie die rosyne vir die hoenders gevoer en toe word die hoenders dronk. Daar is min dinge so snaaks soos ‘n hoender wat met gespreide vlerke so trap, trap probeer loop. Wat minder snaaks was, was wat met ons gebeur het toe my ma uitvind wat met haar kosbare hoenders gebeur het. Soos hulle se: The good old, bad old days.

  2. Dis nie ‘n onmoontlike droom nie ou Anna… All in reach… maar iemand moet die eerste stap neem! 😉

    • Dis juis vir daardie eerste stap neem. Ek het al probeer en dit het nie gewerk nie, want almal om my het net eenvoudig aangegaan en ek het soos ‘n aap gevoel toe ek groot geskenke kry en ek gee sommer alledaagse goedjies, maak nie saak wat my gesindheid was nie,.

  3. ja, dit was Vinolia, en mens kry dit nog vandag. Hiehie vir die dronk hoenders! 😆 My pa, wat ‘n gehabiliteerde alkoholis was, vir baie jare, het een warm somerdag die laaste bietjie gemmerbier in die kan gedrink, en op ‘n moerse trip gegaan! dit was histeries!

  4. kersfees vind ek erg kompleks

  5. Ek dink ons droom dieselfde droom… eintlik is die naam daarvoor hoop, dit is nie onmoontlik nie, die probleem is net om almal sover te kry om saam te speel.

Lewer kommentaar op ekisanna Kanselleer antwoord